Update
STILBAAI NUUS - Saterdag 19 Augustus was 'n heuglike dag vir die 98-jarige oom Billy Clarke van Gansbaai.
Oom Billy wat op 3 September 99 jaar oud sal wees het saam met Piet Nowers van Tortuga Bay se kinders Stilbaai toe gekom as 'n verrassing vir Piet se 88 ste verjaardag. Hy het toe die geleentheid gebruik om die plekkies wat hy as kind geken het weer te beleef.
Hy was van 1931 tot 1934 in die ou skooltjie wat by die museum by Palinggat gehuisves word en toe hy eers in die bank gaan sit waar hy as sewejarige sy skoolloopbaan by juf. Adshade begin het, het die herinneringe uitgeborrel.
Hulle was 15 kinders in die skool, want daar was volgens hom net vyf permanente gesinne in Stilbaai. Hulle moes gereeld die ganse uit die klas jaag, maar dit was sorgvrye jare wat hy vir altyd sal koester.
Sy pa het 'n vissersboot gehad, Felix, en hulle het in Kalkbaai gewoon totdat sy pa besluit het om Stilbaai toe te verhuis. Hy het met Felix tot in die Kaapse hawe gevaar, waar die boot op 'n skip gelaai is tot in Mosselbaai. Van Mosselbaai af het hy weer gevaar tot in Stilbaai.
Dit was die eerste gemotoriseerde boot in Stilbaai en tot in 1934 het hy visgevang voordat hy die boot aan Thys Cronjé vir 'n honderd pond verkoop het. Daarna het die gesin weer teruggekeer Kalkbaai toe.
Oom Billy Clarke (98) in die skoolbank waar hy as sewejarige gesit het.
Oom Billy sê dat hy op 14 begin skeer het en met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog wou hy met alle mag weermag toe. Hulle het hom egter eers op 'n tegniese kursus vir ses maande gestuur en daarna het hy opleiding in die lugafweerstelsels gekry by Youngsfield vir 18 maande.
Hy was toe gereed vir die oorlog en is Egipte toe gestuur as gunfitter. Hy het later 'n boodskapper met 'n motorfiets geword en was in 'n ongeluk betrokke wat hom 15 maande in die hospitaal laat beland het.
Na die oorlog het 'n vriend hom gevra om saam met hom buite Malmesbury te boer, maar hy het geen salaris ontvang nie en toe vat hy eendag die pad. Vir 'n jaar het hy rondgedwaal totdat iemand in 'n kroeg in Kalkbaai hom vra of hy 'n vakleerling wil word.
Hy sluit toe in 1951 aan by die Kaapstad-munisipaliteit waar hy verskeie rolle gehad het totdat hy in 1989 afgetree het as superintendent van die Kaapstad-brandweer.
Oom Billy se eerste vrou is oorlede en hy is nou al vir 52 jaar gelukkig getroud met Marina.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’