STILBAAI NUUS - Die stortingsterrein by Melkhoutfontein word toenemend oorval deur huishoudelike afval wat onwettig gestort word deur inwoners van Stilbaai, Jongensfontein en Melkhoutfontein.
Volgens bekommerde inwoners is dit nie die munisipaliteit wat verantwoordelik is vir die toenemende rommelprobleem nie, maar inwoners wat hul huishoudelike afval onwettig by die terrein aflaai.
Die gevolge van onwettige storting is ernstig en hou groot gevare vir die omgewing en gemeenskap in. Giftige gasse kan ontstaan, grondwater kan besoedel word en die plaaslike ekostelsel word bedreig.
Daarbenewens kan die probleem ook inwoners finansieël raak. Stortingsterreine raak vinnig vol en indien afvalbestuur nie verbeter nie, kan dit lei tot astronomiese kostes vir nuwe stortingsterreine en hoër belastings vir afvalverwydering.
Inwoners word aangemoedig om deel van die oplossing te wees deur minder afval vir sypaadjieverwydering uit te sit, meer bewus te leef en die beginsels van "herdink, verminder, hergebruik en herwin" toe te pas.
Die publiek word verder versoek om die reëls van die stortingsterrein te gehoorsaam en onwettige storting onmiddellik te staak.
"Ons moet soos verantwoordelike volwassenes optree en saamwerk om ons pragtige omgewing te beskerm," het 'n inwoner gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’