WITSAND NUUS - Ernstige kommer heers oor die gehalte van drinkwater in Witsand en Port Beaufort nadat onafhanklike toetse aangedui het dat die water moontlik ’n gesondheidsrisiko vir inwoners inhou.
Volgens ’n mediaverklaring deur die VF Plus het ’n Sanas-geakkrediteerde verslag, gedateer 20 April, bevestig dat bakterieë soos Escherichia coli (E. Coli), enterokokke en totale koliforme by verskeie punte in die Witsand-gebied aangetref is.
Hierdie bevindings dui op ernstige fekale besoedeling en ’n onmiddellike risiko vir mens en dier.
Die verslag toon verder dat die vrye chloor-residuvlakke by alle toetspunte onder die minimum vereiste vlak was, wat dui op onvoldoende ontsmetting van drinkwater.
Daar word ook beweer dat die chloortoedieningstoestel wat die gebied bedien, moontlik nie ten volle funksioneel is nie, wat beteken dat inwoners vir ’n onbepaalde tydperk water kon ontvang het wat nie behoorlik behandel is nie.
Die VF Plus voer aan dat Hessequa-munisipaliteit as waterdienste-owerheid ’n wetlike verpligting het om veilige drinkwater te voorsien en dat vinnige, deursigtige optrede nou noodsaaklik is.
Die party stel verskeie dringende maatreëls voor, insluitend ’n onmiddellike waarskuwing aan inwoners om water te kook voor gebruik, die herstel of vervanging van die chloortoedieningstelsel, en daaglikse monitering van watergehalte met openbare verslagdoening.
Verder word gevra vir noodwatervoorsiening aan inwoners en ’n volledige ondersoek na moontlike instandhoudings- en bestuursfoute wat tot die situasie kon bydra.

Die VF Plus het intussen formeel aan die munisipaliteit geskryf en dring aan op ’n skriftelike reaksie binne 24 uur, sowel as ’n volledige aksieplan binne 48 uur.
Inwoners wag nou op duidelike antwoorde te midde van groeiende kommer oor hul gesondheid en veiligheid.
Intussen het die Witsand-gemeenskapsforum bevestig dat hulle reeds op 20 April die eerste onafhanklike toetsuitslae ontvang het, wat die teenwoordigheid van E. coli en enterokokke-bakterieë in die water bevestig.
Die forum waarsku dat die water tans nie veilig is vir direkte verbruik nie en doen ’n dringende beroep op inwoners om alle drinkwater eers deeglik te kook.
Spesiale waarskuwings is gerig aan kwesbare groepe soos bejaardes, babas, kinders en persone met verswakte immuunstelsels om nie onbehandelde kraanwater te gebruik nie.
Die gemeenskapsforum het aangedui dat hulle reeds die munisipaliteit van die bevindinge in kennis gestel het en op ’n formele reaksie wag.
Inwoners word versoek om kalm te bly en die nodige voorsorgmaatreëls te volg.
Suid-Kaap Forum het ook navraag aan die munisipaliteit gerig en sal ’n opvolgberig publiseer sodra terugvoering ontvang word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’