HEIDELBERG NUUS - Heibi het Saterdag seker sy grootste loesing van die seisoen gekry toe die rooibruin golf van Oudtshoorn, Bridgton-rugbyklub, die tuisspan met 54 - 33 verslaan het.
Dít nadat Heibi rustyd in die tweede SWDRU Superliga Top-8-wedstryd met 26 - 24 voorgeloop het.
Die besoekers het agt keer teenoor die tuisspan se vyf keer agter die doellyn gaan kuier om hulself van ’n waardevolle bonuspunt te verseker.
Heibi het ook een bonuspunt ingesamel.
In die eerste wedstryd van die dag het Bridgton se C-span met 26 - 3 koning gekraai nadat hulle rustyd met 14 - 3 voorgeloop het.
Heibi se B-span het met 17 - 12 geseëvier nadat hulle rustyd reeds met 17 - 0 voorgeloop het.
Heibi speel Saterdag 25 Julie tuis teen Crusaders van George, waar hulle weer harde teenstand van die voormalige kampioene kan verwag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’