Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Melkhoutfontein Primêr het Vrydag 29 Julie afskeid van Alfred Manhoe geneem wat sedert 2000 diep spore as opvoeder by dié skool getrap het.
Manhoe het in 1987 sy onderwys-studies by die destydse OKSK in Oudtshoorn voltooi en het in 1988 sy loopbaan by Gerrit du Plessis Senior Sekondêr in Riversdal begin.
In 2000 het hy huis toe gekom om 'n verskil te kom maak in Melkhoutfontein.
Hier het hy ook 'n groot bydrae in die gemeenskap, sowel as in die kerk gelewer.
Hy was ook 'n kranige sportman en het rugby vir Seagulls in Melkhoutfontein gespeel.
Die skoolhoof, mev. Flores onthou Manhoe as iemand wat baie tyd daaraan bestee het om te verduidelik, maar as hy daarmee klaar was, het jy verseker verstaan.
Sy sê ook vir die leerders dat hy vir baie van hulle ouers en grootouers klas gegee het en dat baie van die leerders wat uit sy hande kom, vandag baie suksesvol in die beroepe is wat hulle gekies het.
Die onderhoof, mnr. Baker sê Manhoe moet onthou dat aftrede nie die einde van 'n pad is nie, maar die begin van 'n splinternuwe reis. Sy opdrag aan hom was om nooit op te hou lag nie. "Sodra jy te ernstig raak, gaan jy oud word. Lag hou jou jonk."
Pastoor Kleinhans wat die verrigtinge geopen het, het hom bedank vir die investering wat hy in die jeug van Melkhoutfontein gemaak het en gesê hy was 'n inspirasie vir hom wat self deur Manhoe se hande is.
Die een na die ander huldeblyk deur kinders van die skool het dit duidelik gemaak dat hy streng was, maar regverdig. Hy het sy eie unieke manier gehad van dissiplinering, maar hy was beslis 'n geliefde onderwyser wat verseker gemis gaan word.
Melkhoutfontein Primêr se leerders vorm 'n erewag vir Alfred Manhoe wat sedert 2000 diep spore getrap het as opvoeder by dié skool. Hy het Vrydag afgetree.
Vorige artikel: Onderwys legende tree af
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'