RIVERSDAL NUUS - Hoër Landbouskool Oakdale het Dinsdag 5 Mei sy 98ste bestaansjaar gevier en byna ’n eeu van landboutradisie, groei en trots herdenk.
Die vieringe het met ’n spesiale saalperiode afgeskop, waarna leerders die middag hul kreatiwiteit en braaikuns sou wys tydens ’n braaibroodjie-kompetisie waar eie resepte op die proef gestel word.
Volgens die trotse skoolhoof, Willem du Buisson, wat reeds die afgelope vyf jaar aan die stuur van die skool staan, groei Oakdale steeds van krag tot krag.
Die skool se leerdertal het oor die jare aansienlik toegeneem en staan tans op ongeveer 453 leerders.
Die geskiedenis van Oakdale strek terug na 1927 toe ondersoek ingestel is of die plaas Oakdale geskik sou wees vir die stigting van ’n landbouskool.
Die plaas is vroeër deur die Departement van Landbou oorweeg as opleidingsplaas vir soldate wat uit die Eerste Wêreldoorlog teruggekeer het.
Die skool het amptelik in 1928 sy deure geopen met slegs ses seuns - drie uit die destydse Transvaal en drie uit die Vrystaat.
Die historiese ou plaashuis en plaasbuitegeboue het destyds as die enigste huisvesting gedien.
Teen 1930 is ’n aparte koshuis vir 42 leerders gebou, waarna die plaaswoning as skoolgebou benut is.
In die daaropvolgende dekades het die skool voortdurend uitgebrei met nuwe koshuise, klaskamers en fasiliteite om aan die groeiende behoefte te voldoen.
In 1941 is die Victoriaanse syvleuel van die oorspronklike huis vervang met twee groot vleuels wat vandag steeds deel van die skool vorm - waaronder die bekende Fanie du Toitsentrum.
Met die voortdurende groei in leerdergetalle is koshuis Albion in 2002 bygevoeg, met verdere uitbreidings in 2020 om meer leerders te akkommodeer.
Byna ’n eeu later bly Oakdale een van die land se bekendste landbouskole en speel dit steeds ’n belangrike rol in die ontwikkeling van jong landbouleiers.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’