Update
RIVERSDAL NUUS - Louis Lategan het reeds as nuwe skoolhoof nog 'n tradisie by Laerskool Volschenk begin.
Elke nuwe onderwyser, alle gr. 1-leerders en nuwe leerders moet die groot klok in die portaal lui. Oud-onderwysers het ook 'n kans gekry om die klok te lui, aangesien dit 'n nuwe tradisie is.
Sodra die leerders in gr. 7 hul skoolloopbaan voltooi, lui hulle die klok weer. Dieselfde geld vir 'n onderwyser wat uittree.
Lategan was adjunkhoof van Laerskool Wesbank in Oudtshoorn. Hy was vir 16 jaar by dié skool betrokke. Hy, sy vrou, Petria en hul jongste seun het na Riversdal verhuis. Hulle het twee ouer seuns wat reeds uit die huis is. Sy vrou is 'n onderwyseres wat ook by Vollies aangesluit het.
Lategan het gesê: "Ons het van dag een die gemeenskap as positief ervaar. Volschenk is 'n skool met baie potensiaal en geleenthede. Ons word oral vriendelik verwelkom."
Elke leerder is vir hom belangrik en hy wil hê dat elkeen sy of haar volle potensiaal moet bereik. 'n Groot droom wat hy vir die skool het, is dat hulle die toonaangewende tegnologiese skool sal word.
"Nog 'n droom is om buitemuurs, gevorderde rekenaarvaardighede vir kinders te leer. Ons moet kinders ten opsigte van tegnologie vir die wêreld daar buite voorberei. Kinders word deesdae visueel gestimuleer."
Hy beoog om die skool 'n waarde gedrewe skool te maak. "Omdat 'n opgevoede kind nie reëls nodig het nie, kan daar op waardes gefokus word waarvan respek die hoof waarde is. Wanneer jy respek het, val al die ander waardes in plek."
Sy hele gesin is lief vir die natuur en buitelewe. Hulle kamp gereeld in die bosveld. Lategan sê dat hy net sewe dae in die week braai omdat 'n week net sewe dae het.
Lees 'n vorige artikel hier: Lategan neem leisels oor.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'