Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Nuwe tegnologie in DNA-ontleding kan moontlik aandui wie se bloed op die veters van 'n paar tekkies is waarop die polisie na Marika Jansen se dood beslag gelê het.
Nog twee getuies se verklarings is Donderdag 19 September in die landdroshof aangehoor in 'n voortsetting van die geregtelike nadoodse ondersoek van Jansen wat op 1 Oktober 2005 verdwyn het.
Die vermoede bestaan dat die 44-jarige Jacobus (Pepe) September met die moord op Jansen verbind kan word.
Polisiefotograaf Martino Olivier van George en lt. kol. Johannes Kok van die polisie se forensiese laboratorium in Plattekloof, Kaapstad het hul verklarings vir die hofrekord voorgelees. Albei was op 7 Oktober op die toneel waar haar liggaam gevind is.
Volgens Olivier het hy onder meer foto's van die slagoffer se liggaam en persoonlike besittings, soos 'n haarband en skoen geneem.
Kyk 'n video hieronder:
Kok het getuig dat hy verskeie monsters van verskillende dele van die liggaam geneem het vir latere DNS-ontleding. Hy het ook kledingstukke van Jansen en September in forensiese sakke verseël. Met behulp van Luminol, 'n middel wat met die yster in rooibloedselle reageer, het hy bevind dat spatsels op die veters van die tekkies wat aan September behoort 'vermoedelik bloed' kan wees.
Die middel reageer ook met verdunde bloed, maar die witbloedselle in die monster wat uit die spatsels bekom is, was te min vir 'n positiewe DNS-identifikasie.
Die voorsittende beampte, landdros Helnie Prinsloo Oosthuizen wou van Kok weet of moderner tegnologie wat sedertdien ontwikkel is, 'n positiewe DNS-ontleding sou kon doen, waarop Kok bevestigend geantwoord het.
'n Brief sal aan die forensiese afdeling gerig word om verdere toetse aan te vra. Oosthuizen het die verrigtinge tot 21 November uitgestel om die staat genoeg tyd te gee om die addisionele toetse te laat doen. Hierdie bewyse kan moontlik tot 'n nuwe wending in die onopgeloste moordsaak lei. September, wat op dieselfde dag (7 Oktober) in die hof op Mosselbaai as verdagte verskyn het, is weens gebrek aan voldoende bewyse vrygelaat.
September, wat Donderdag geklee in 'n grys sweetpak met rooi, wit en blou sterre onder 'n lang wit jurk en in voetboeie in die hof verskyn het, dien reeds lewenslange gevangenisstraf in 'n maksimum-sekerheid gevangenis vir verkragting uit.
Modern DNA analysis may indicate whose blood appears on the laces of a pair of tackies found in Jacobus September's home on the day the body of the murdered Marika Jansen (12) was found. This new evidence may lead to the successful prosecution and the conclusion of a cold case of 14 years.
Lees vorige artikels hier:
- Tegnologie kan moordraaisel help oplos
- 'Ma, hoe voel dit om vermoor te word?'
- Verdoemende getuienis in Marika saak
- Moordsaak na 14-jaar weer in die landdroshof
- Onopgeloste moordsaak na 14 jaar in hof
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'