SUID-KAAP NUUS - "Al was ek vele kere deur die jare mishandel in verskeie werksplekke, het ek heel anderkant uitgekom. Dit is my storie!"
Aan die woord is Erica Kleinhans, die skrywer van die insiggewende boek Toxic Workplaces – the damages you don't see.
Sy het op 13 Julie haar boek in haar tuisdorp, Swellendam, bekendgestel. Erica wat in 1992 aan Swellendam Sekondêr gematrikuleer het, het in verskeie werksplekke die mishandeling en ondermyning van kollegas en werkgewers ervaar. Hoewel dit ernstige skade aan haar senustelsel veroorsaak het, het sy doelbewus gekies dat niks haar gaan onderkry nie.
In die boek vertel Erica van die verskeie tipes boelies waarmee sy te doen gekry het byvoorbeeld die 'Pitboel' wat domineer om sy of haar sin te kry, 'Prince Charming', 'The Bossy Queen Bee', 'The Piggy-backer' en 'The All Gold Magician' wat deur oëverblindery mense minderwaardig laat voel en breek.
Op 'n vraag oor hoe boelies optree, antwoord Erica soos volg: "Boelies doen skade en beheer en verkleineer mense. Boelies klim in jou kop, want daarvandaan kan hulle jou beheer en manipuleer."
Boeliegedrag beïnvloed ook die individu se gesinslewe en die uitwerking wat dit op haar eie gesin gehad het was vir Erica die keerpunt in haar reis na herstel. Sy reken dit het tyd geword dat gemeenskappe saamstaan en die geveg teen boelie 'pad toe neem' om 'n duidelike boodskap dat boelie nie langer plek het in ons gemeenskappe nie, uit te stuur. Boelie word deesdae as normale gedrag beskou want mense ervaar dit by die huis, skool en in die werksomgewing en dis makliker om dit te ignoreer.
Die boek wat as terapie begin het wil ook leiding aan ander wat dieselfde lewensreis beleef, verskaf.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'