MELKHOUTFONTEIN NUUS - Die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings het finansiering vir die tweede behuisingsprojek hier goedgekeur.
Inwoners van die dorpsgebied en omstreke het Donderdag 2 Mei die goeie nuus op 'n vergadering van Grant Riddles, Hessequa-burgemeester, ontvang. Die vergadering is ook deur rdl. Ben Smith, David Douglas van ASLA en Chris Onrust, direkteur: gemeenskapsdienste en behuising bygewoon.
Volgens Onrust is die beplande projek op koers en die omgewingsgoedkeuringsproses word nou onderneem. Geen projek kan afskop voor hierdie goedkeuring van die departement omgewingsake verkry is nie.
ASLA, die raad se behuisings-implementeringsagent se professionele span onderneem ook navorsing om die uitwerking van die nuwe projek op dié dorp se rioolwerke te bepaal.
Lees 'n vorige artikel: Melkhoutfontein kry nog huise
Die projek sal in fases geïmplementeer word - eers die installering van siviele dienste, gevolg deur die bou van huise vir goedgekeurde inwoners. 'n Konsepuitleg wat vir altesaam 585 erwe voorsiening maak, is aan die inwoners vertoon en verduidelik. In die eerste fase sal 'n minimum van 250 behuisingsgeleenthede geskep word vir 'n erf, of erf en huis. "Dit is onderhewig aan die finale goedkeuring van die provinsiale departement van menslike nedersettings," verduidelik Onrust.
Die behuisingsprojek gaan met behulp van verskillende soorte finansieringsprogramme ontwikkel word om voorsiening te maak vir persone met 'n inkomste van R0 - R3 500, R3 501 - R7 000 en R7 001 - R22 000.
Onrust het benadruk dat moontlike deelnemers die geleentheid sal hê om hul besonderhede op die behuisingsdatabasis te verifieer en op te dateer. Inwoners sal binnekort kennisgewings in die verband ontvang. Die vergadering is afgesluit met 'n vraag- en antwoordsessie. Die gemeenskap is versoek om saam te werk dat die projek suksesvol in werking gestel en afgehandel kan word.
• Op dieselfde dag is 73 titelaktes aan inwoners van die dorpie oorhandig. Die oorhandiging is voorafgegaan deur 'n opleidingsessie waartydens Riddles die inwoners ingelig het oor die verantwoordelikheid wat met huiseienaarskap gepaardgaan. Hy het hulle versoek om hul huise en die belangrike dokument op te pas. Hy het hulle ook gemaan om hul testament in orde te kry ten einde rompslomp na hul afsterwe te voorkom.
• Minister Bonginkosi Madikizela het op 20 Maart 148 titelaktes op Heidelberg oorhandig.
Inwoners van Melkhoutfontein luister aandagtig na inligting oor ’n nuwe behuisingsprojek tydens ’n vergadering op 2 Mei.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'