HEIDELBERG NUUS - Twee plaaslike gesinne het Sondagoggend vroeg ’n noue ontkoming gehad toe ’n voertuig deur die heining van die een gesin gebars en teen die voordeur tot stilstand gekom het.
Die Matthys-egpaar, Clarence en Mazanne, vertel hoe hulle met ’n helse lawaai wakker geskrik het. Toe Clarence by die kamervenster uitkyk, het hy die wit Daihatsu-bakkie teen die venster gesien met sy ligte nog aan.
Volgens Clarence en sy buurman, Giovanni Pieters, wat ook skade aan sy stoep gely het, het die voorval net nádat beurtkrag om 04:15 ingeskop het, plaasgevind.
Die polisie was gou op die toneel.
Volgens sers. Imorgene Hendricks, plaaslike mediabeampte, is daar ’n klag van roekelose en nalatige bestuur teen die bestuurder gemaak.
Intussen het die bestuurder met beide Matthys en Pieters geskik om hulle vir die skade te vergoed.
Die skade aan die woning van Clarence Matthys kan hier duidelik gesien word. Foto's: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'