STILBAAI NUUS - Ses spanne het ingeskryf vir die PRET netballiga wat Woensdagaand die vyfde Februarie begin het.
In die eerste wedstryd het Seagulls vir Berties getroef, daarna was die Thunder Sisters veels te sterk vir 007 en in die laaste wedstryd het High Hoops die Goal Diggers kous oor die kop huistoe gestuur.
Alhoewel Friena Müller, organiseerder van die toernooi, beklemtoon dat dit 'n pret netbaltoernooi is het die spelers hard ingeklim en heelwat dames het in die proses op die grond beland.
Helene Burger van die 007 span moes selfs mediese behandeling kry nadat sy hard met die baan kennisgemaak het.
Ongelukkig was daar nie 'n TV-skeidsregter vir 'n kyk-weer om te bepaal of daar enige vuilspel was nie.
Na die eerste rondte loop Thunder Sisters voor met Seagulls tweede, High Hoops in die derde plek, Berties en 007 gesamentlik vierde en Goal Diggers sit met die houtlepel.
Wedstryde word elke Woensdag vanaf 18:00 gespeel en die finaal sal plaasvind die 12de Maart.
Kom ondersteun gerus die dames, westryde is net 7 minute aan 'n kant.