Update
HEIDELBERG NUUS - Die personeel van Grootvadersbosch Natuurreservaat het nie slegs hul harte teenoor minderbevoorregte leerders oopgemaak nie, maar ook hul beursies.
Met die snerpende koue wat die streek die afgelope paar weke ondervind, het die personeellede, waaronder permanente en tydelike werkers (EPWP) onder leiding van die bestuurder, Ian Allen, dit goedgedink om hul uitreikingsprojek van 2015 aan 15 behoeftige leerders van De Waalville Primêr te herhaal.
Dié keer het hulle skoene, kouse, politoer en borsels aan 20 leerders, asook skryfbehoeftes aan 40 leerders geskenk.
Volgens Allen is al die personeel buiten een, oudleerders van die skool en voel hulle dat hul aan hul alma mater moet terugploeg, al het hulle dit self nie baie breed nie.
"Ons is dankbaar dat ons 'n werk het, al is almal nie permanente werkers nie." Hy het bygevoeg dat die skenkings gelykstaande aan 15 dae se salaris van elke werker is.
Onderwyser Shalmay Meyers, het haar dank teenoor die werkers uitgespreek en hulle geloof vir hul onbaatsugtige skenking. Sy het die leerders gemaan om mooi na hul skoene om te sien en benadruk dat hulle nou geen verskoning het om nie skool by te woon nie. Die prinsipaal, Ralph Jacobs, het ook sy dank aan Allen en sy span uitgespreek.
Lees 'n vorige nuusflits: Werkers skenk ruim aan skool
ARTIKEL: CLIVE PRETORIUS, KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'