RIVERSDAL NUUS - 'n Eeufees kom net een keer, en Voorwaarts Primêr het dié besondere mylpaal behoorlik gevier met 'n naweek vol sport, musiek, samesyn en dankbaarheid.
Die skool se 100ste bestaansjaar is van Vrydag 18 tot Sondag 20 September met 'n verskeidenheid aktiwiteite gevier.
Die feestelikhede het Vrydagaand afgeskop met die Mnr. en Mej. Voorwaarts-kompetisie, waarna sport Saterdag die kollig gesteel het.
Voorwaarts het as gasheer vir 'n sportdag opgetree waaraan Melkhoutfontein Primêr, Oker Primêr en Panorama Primêr deelgeneem het.
Rugby, netbal en sokker was op die program en Voorwaarts het in die meeste van sy wedstryde die botoon gevoer.
Volgens die skool was die dag egter oor veel meer as net wen.
"Vir ons was dit nie net oor wen nie, maar oor samesyn en die bou van goeie, gesonde vriendskappe met ons buurskole."
Verskeie stalletjies is deur opvoeders beman, terwyl die personeel saamgespan het om die sportdag en eeufeesnaweek 'n sukses te maak.
Saterdagaand is die vieringe voortgesit met 'n "All Black Affair", waar die musiekgroep, Perogative, vir die vermaak gesorg het.
Die eeufeesvierings is Sondagmiddag op 'n gepaste en betekenisvolle wyse afgesluit met 'n dankseggingsdiens om 15:00 in die Lutherse Kerk.
Die naweek was nie net 'n viering van Voorwaarts Primêr se 100-jarige bestaan nie, maar ook van die mense, vriendskappe en gemeenskapsgees wat oor 'n eeu deel van die skool se geskiedenis geword het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’