HEIDELBERG NUUS - Vol sale, staande ovasies en 'n gesogte trofee vir die gevierde skrywer Riana Scheepers is van die hoogtepunte waarmee die negende Hessequa Harmoniefees Heidelberg vandeesweek behoorlik in 'n feesdorp omskep het.
Feesbestuurder Niël Rademan sê hy is besonder trots op die sukses wat vanjaar se fees tot dusver behaal het en veral op die vol sale wat die verskillende aanbiedings lok.
Een van die groot hoogtepunte was Woensdagaand se galakonsert in die NG Kerk, waar Scheepers met die gesogte Harmonie-trofee vereer is.
Dié trofee word jaarliks aan 'n uitgesoekte kunstenaar toegeken wat ook buite Suid-Afrika presteer en as ambassadeur vir die fees optree.
Volgens Rademan het sowat 1 000 mense die geleentheid bygewoon.
Scheepers bied deur die loop van die fees ook haar gewilde Scheepers en Skrywers-gespreksreeks aan.
Die fees het Dinsdag reeds op 'n hoë noot afgeskop met Spiritual Songs, met die wêreldbekende sopraan Paulina Malefane en Rademan as bariton.
Hulle is deur die plaaslike RUK-koor, Elna van der Merwe op klavier, Miroslav Chakaryan op viool en Susan Mouton op tjello bygestaan.
Nog 'n hoogtepunt was die Bulgarian Brunch by Proeviand, waar Chakaryan, Mouton en Van der Merwe 'n stampvol gehoor met werke van onder andere Haydn, Brahms en Mendelssohn, asook tradisionele Bulgaarse musiek, vermaak het.
Die uitvoering is met 'n staande ovasie begroet.
Kaat Vanhaverbeke op akkordeon en Josie McClure op saksofoon het op hul beurt as die NorthSouth Duo met Van Holland tot Heidelberg 'n musikale reis deur onder meer Roemeense, Spaanse, Hollandse, Poolse, Balkan- en Suid-Afrikaanse musiek aangebied.
Erfenisdag het ook 'n besondere oomblik opgelewer toe die akteur Dean Balie die lewe van die ontslape digter en akademikus Adam Small gevier het. Die historiese Congregational Church word vanjaar vir die eerste keer as een van die fees se konsertlokale gebruik.
Nog baie om na uit te sien
Vandag, Vrydag 25 September, begin met Scheepers en Skrywers om 09:00 by die Fourie-huis, waar Scheepers met die bekroonde skrywer Theo Kemp gesels.
Om 11:30 volg Brahms en Blomme by Proeviand met José Dias op klavier en Johanna Roos op viool.
Dié aanbieding is reeds uitverkoop en word deur Rademan as "een vir die boeke" beskryf.
Lee-Ann van Rooi bring om 15:00 Oulap se Rooi by die Congregational Church, waarna Happies en Wynproe om 16:30 by Delish aangebied word.
André Schwartz neem om 19:00 die stadsaal oor met Any Dream Will Do - My pad met Webber, 'n reis deur Andrew Lloyd Webber se musiekblyspele.
Die dag sluit met die VRL Kuierkamer in die banketsaal af.
Saterdag 26 September verskuif die fees na Dasjesdrift.
Scheepers gesels om 11:00 met die bekende skrywer Chanette Paul, wie se Déjà vu haar 51ste boek is.
Om 14:00 volg die musiekdrama Vivaldi en die Vondeling, met Lynelle Kenned, Johanna Roos en Mario Nell. Scheepers het die teks geskryf en Rademan behartig die regie.
Rocco de Villiers bring die feesprogram om 16:00 verder tot lewe met 'n vertoning van nostalgiese én moderne musiek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’