STILBAAI NUUS - Die 2025 tema van Mariene Maand is "Ons Oseaan, Ons Verpligting, Ons Geleentheid", om die belangrikheid van oseaanbewaring te benadruk.
As deel van die vieringe het die omgewingsbestuurspan van Tuinroete-distriksmunisipaliteit 'n skoonmaakaksie by Preekstoel-strand in Stilbaai van stapel gestuur, in samewerking met rolspelers soos die departement van bosbou, visserye en die omgewing, CapeNature, Hessequa-munisipaliteit, Melkhoutfontein Primêr en die NSRI.
Dertig leerders, vier onderwysers en 10 ander volwassenes het die taak Donderdag 23 Oktober aangepak en sommer heelwat rommel opgetel.
Raadslid Jobieth Hoogbaard, portfoliovoorsitter van gemeenskapsdienste by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het in sy verwelkoming gesê dat Mariene Week is nie net die viering van ons kuslyn nie, maar dit is om verantwoordelikheid te vat daarvoor.
Hy sê verder dat 'n plastiekstrooitjie, botteldoppie of 'n vislyn miskien klein mag lyk, maar dit kan vir 'n seeskilpad, seevoël en vis die verskil tussen lewe en dood beteken.
Vir baie Stilbaaiers is dit 'n ereplig om die kuslyn en strande skoon te hou en jy sal gereeld mense sien stap met 'n sakkie byderhand om elke stukkie rommel wat hulle teëkom op te tel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’