ALBERTINIA NUUS - Die Wes-Kaapse adjunk-minister van landbou, Mcebisi Skwatsha het tydens 'n besoek aan Albertinia op Donderdag, 22 April gesê dat almal slagoffers van omstandighede is, veral wat betref die Covid-19-pandemie.
Skwatsha het toerusting namens die departement aan die Working on Fire (WoF)-span en vir gebruik by 'n plaaslike groentetuinprojek geskenk.
Hy het bygevoeg dat slagoffers oorwinnaars kan wees deur hul eie omstandighede en dié van ander te verbeter deur gemeenskapsgroentetuine te kweek, soos die voorbeeld wat 'n plaaslike inwoner, Elize Pietersen gestel het.
Pietersen het haar eie groentetuin vir die gemeenskap begin. Sy het groentesaad uit haar sak gekoop en haar eie watertenks gebruik om die tuin aan die gang te kry. Skwatsha het haar vir haar inisiatief geloof.
"Ek het van hierdie projek deur minister Edna Molewa te hore gekom. Sy het my laat verstaan dat hierdie soort projekte maklik oorgesien word en daarom het ek betrokke geraak. Vandag wil ons bevestig dat die departement landbou voedselsekuriteit ernstig opneem. Dit is belangrik om gemeenskapstuine te hê," het Skwatsha gesê.
Hy het WoF bedank vir hulle betrokkenheid en by Pietersen se projek. Hy het bygevoeg dat 'n gebrek aan tuingereedskap en toebehore hierdie soort gemeenskapsprojekte se vooruitgang stuit.
Albert Snyman, hoofbedryfsbestuurder van Suid-Kaap se WoF-span het hulle dankbaarheid oor die skenking uitgespreek. "Die implemente kan ons span help om in die gemeenskap te werk. Ons kan weer ons tuin op die basis ook mooi maak en skoonmaakwerk doen."
WoF het gesamentlik 49 lede op Riversdal en Albertinia. Volgens Snyman wil hulle nog spanne in Gouritsmond en Melkhoutfontein ook begin. "Ons kyk na 120 werksgeleenthede wat in die Hessequa-distrik geskep kan word."
Hy het verduidelik dat Working on Fire brande in die veld en woud, asook op plase bestry en dat hulle hulp aan die gemeenskap verleen. Volgens hom is opleiding by WoF, wat op skoolverlaters tot en met die ouderdom van 35 gemik is, belangrik vir diegene wat hulle verder as brandbestryders wil bekwaam.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'