RIVERSDAL NUUS - Verskeie motoriste in Riversdal en Stilbaai het hul misnoeë uitgespreek oor wat hulle beskryf as "oor-polisiëring" deur die plaaslike verkeersdienste.
Volgens Suid-Kaap Forum is daar 'n skerp toename in klagtes van inwoners wat aanvoer dat hulle daagliks deur verkeersbeamptes afgetrek en beboet word vir geringe oortredings.
Een inwoner beweer sy is verlede week 'n boete van R500 opgelê omdat haar voertuig se nommerplaat nie met klinknaels vasgemaak was nie.
Volgens haar is sy later meegedeel dat die wet wél in dié verband gewysig is, maar dat dit slegs van toepassing is op voertuie wat nuwer is as 2010-modelle.
Nog 'n motoris, wat anoniem wil bly, het gekla oor wat hy as intimiderende gedrag van verkeersbeamptes beskryf.
"Ek kla nie oor hulle werk nie, maar oor die manier waarop hulle dit doen. Hulle is ongeskik en onprofessioneel," sê hy.
Ander klagtes sluit in boetes vir bande wat ouer as drie jaar is, ondanks aanvaarde loopvlakdiepte, en 'n R3 000- boete vir 'n bakkie waarvan die traliewerk glo nie aan die regte hoogte-vereistes voldoen het nie.
In Stilbaai het 'n groep bekom-merde motoriste intussen meer as 200 handtekeninge vir 'n petisie ingesamel.
Die petisie, wat spesifiek gemik is teen die verkeersdienste se optrede in die dorp, sal na verwagting binnekort aan die munisipale bestuurder oorhandig word.
Daar is ook verneem dat dit in Riversdal gedoen gaan word.
Munisipaliteit reageer
Op navraag oor die dorpe se ongelukkigheid het Hessequa-munisipaliteit se mediabeampte, Didi Budricks, gesê: "Hessequa-beskermingsdienste streef daarna om 'n veilige omgewing vir alle inwoners te skep.
Verkeersdienste soos die toepassing van verkeerswette vorm deel van verantwoor-delikhede van die munisipaliteit.
"Verkeersboetes word uitgereik volgens 'n lys van oortredings (boetelys) wat volgens die Wes-Kaapse regering saamgestel word en bepaal teen watter bedrag 'n boete uitgereik word.
Hierdie is gestandaardiseer deur die provinsie.
"Verkeersdienste bedien die hele Hessequa munisipale area en word dorpe op 'n rotasiebasis (skof stelsel) besoek.
Addisioneel tot ons munisipale verkeersbeamptes, is provinsiale verkeerspanne ook aanwesig in ons streek ter uitvoering van hul provinsiale mandaat.
"Indien inwoners voel dat boetes wat aan hul uitgereik is, nie in lyn met wetgewing is nie, is
hulle welkom om vertoë te rig.
"Skriftelik vertoë kan gerig word by wyse van 'n voorgeskrewe vorm wat beskikbaar is by die Riversdal-verkeersafdeling.
Addisioneel kan vertoë ook na ondergenoemde e-posadresse gestuur word met 'n verduideliking en boete nommer as verwysing.
"Waar inwoners ontevrede is met die optrede of gedrag van munisipale amptenare hetsy in die verkeersdepartement of ander, nooi ons hul graag om dit by die munisipaliteit aan te meld, sodat die klagte deur die gepaste kanale hanteer kan word," sê Budricks.
E-pos adresse: jmichaels@tmt.africa, lpienaar@tmt.africa of info@hessequa.gov.za