Mooiloop! word deur Valiant Swart en Denvor Phokaners besoek om minder bekende stede en dorpe in ons land aan kykers bekend te stel, deur die stories van die mense wat dié plekke hul tuiste noem. Valiant (regte naam Pierre Nolte) spog met 'n loopbaan van meer as 24 jaar as 'n digter, sanger, liedjieskrywer en komponis en het al 15 albums in sy musiekloopbaan vrygestel.
Denvor was te sien in die bekroonde reeks Rize Mzansi op SABC1 in 2010 as 'n besigheidsmentor en regter. Hy het ook onlangs 'n draai gemaak in SABC2 se komedie Kleur TV. Die reeks word Woensdae om 18:30 uitgesaai op SABC2. Die episode oor Riversdal is geskeduleer vir 6 November, maar kan verander.
Joanne de Waal, bekende plaaslike sangeres, liedjieskrywer en onderwyseres by Gerrit du Plessis Senior Sekondêre skool, het die televisiespan op hul tog deur die dorp vergesel. Die plaaslike inwoners en plekke wat vanaf Vrydag, 27 tot Dinsdag, 1 Oktober besoek was, is Tertius en Alida le Roux met hul miniatuurperde, verskeie kunswinkels soos Kontrei Sisters, Paddavlei Kunsgoete, Bali Trading, Die Rooi Aalwyn padstal, Edens Best en Mosaïek (werkswinkel van Droom), Willie en Soriana Geldenhuys se Mont Blanc perdestoet plaas, die blomboer Pierre Vermaak, die Ou Tronk, Muiskraal Olyfplaas, Caren's Place, Danie en Angelika se eko-vriendelike huis, Makka Swart en sy duiwe, die 100-jarige mev. Moolman, Hogan wat voor Pierre Vermaak se plaas bly en wat houtwerk doen en indringerplante verwyder, die 82-jarige Anna Snell met haar versameling borduurwerk, Lomi Riddles wat vir Valiant waterblommetjies gaargemaak het, Steven Solomons met sy ballroom dansklas, St. Andrews se Brass Band, De Doornkraal Historic Country House Boutique hotel en die Julius Gordon Africana Centre.
'n Baie belangrike plek wat die span wel misgeloop het, is die plaaslike koerant se kantore!
* Die name wat gemeld is, is soos deur die vervaardigers van die reeks, Blue Marble Entertainment, verskaf en is Suid-Kaap FORUM nie verantwoordelik vir name/plekke wat uitgelaat is nie.

Van links is Denvor Phokaners (aanbieder), Joanne de Waal (plaaslike sangeres/liedjieskrywer/onderwyseres), Valiant Swart (aanbieder) en Lynette Truter, eienaar van Die Dam Kwekery en Restaurant tydens 'n opname daar.
ARTIKEL: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Riversdal | Hessequa nuus'