Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, het Dinsdag 27 September die steenlegging waargeneem van die nuwe behuisingsprojek in Melkhoutfontein.
'n Gemeenskapslid Albert Cloete, het die verrigtinge geopen met gebed waarin hy die Here bedank het dat Hy geluister het na die pleidooie van die gemeenskap.
Hy het die Here gevra om die werkers te beskerm tydens die projek en dan het hy ook gevra dat die Here die ontvangers van huise se harte ontvanklik maak aangesien hulle al so lank wag vir hierdie droom om waar te word.
Hessequa-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, het die minister bedank dat hy as 'n jong nuwe minister in 2016 sy weg oopgesien het om Hessequa finansieel by te staan om hierdie groot projek aan die gang te sit.
'n Reservoir moes gebou word, pypleidings moes aangelê word en die rioolkapasiteit moes vergroot word. Dis binne vyf jaar vermag.
Riddles sê dat daar mense is wat al 25 jaar lank wag vir huise en as jy 'n huis kry moet jy dit waardeer. "Huise val nie uit die lug uit nie en in baie ander gevalle kry mense net 'n gedienste erf."
Minister Simmers het begin met die gesegde, "dat die wolf op die heuwel nooit so honger is as die wolf wat nog die heuwel moet klim nie.
"Die heuwel simboliseer sukses. Hierdie projek is 'n gesamentlike poging van die provinsie, die munisipaliteit en die gemeenskap, maar die gemeenskap is die belangrikste. Die Melkhoutfontein-gemeenskap kon ongeduldig en opstandig raak, soos baie ander gemeenskappe, maar hulle het verkies om met geloof, wetsgehoorsaamheid en pligsgetrouheid hierdie heuwel aan te pak." Hy bedank hulle daarvoor.
Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van Hessequa-munisipaliteit, gee 'n graaf sement vir Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Dinsdag tydens die teenlegging by die nuwe behuisingsprojek in Melkhoutfontein. Foto: Johan Victor
Die minister sê dat hy uitsien om die eerste 200 voltooide huise teen Maart 2023 te sien en hy noem verder dat mense huise sal ontvang soos die projek vorder en nie eers ná voltooiing van die hele projek nie. Die verwagting is dat na elke 30 tot 50 huise voltooi is, dit oorhandig sal word aan die nuwe eienaars.
Daar loop baie gerugte rond oor wie huise gaan kry, maar Hessequa-munisipaliteit maak dit baie duidelik dat slegs mense wat langer as drie jaar op die amptelike waglys is en wat kwalifiseer huise sal ontvang.
Die huise word baie stewig gebou en so opgerig dat met die goedkeuring van 'n bouplan die eienaar in staat sal wees om aan te bou en sodoende te verbeter.
Ander opsies wat oorweeg word, is 'n uitgestelde eienaarskapopsie waarvolgens voornemende eienaars eers vir 'n periode van twee jaar huur of die moontlikheid om net 'n gedienste erf te ontvang. Werkgewers kan dan moontlik inspring om hulle werkers te help met die bou van die huis. Hessequa-munisipaliteit sal mettertyd hieroor terugvoering gee.
Simmers het afgesluit deur te sê dat die sooispit gedoen is in geloof. "Nou met die steenlegging is dit in geloof en hierdie hele projek is 'n baken van geloof."
Tinus van den Berg, onderburgemeester van Hessequa, het al die rol-spelers bedank, veral die minister vir die waardevolle rol wat hy gespeel het om hierdie projek 'n werklikheid te maak. Hy sê dat dit 'n mens waardigheid gee as jy 'n huis besit en hier is waardigheid in wording.
Een van die halvoltooide huise by die nuwe behuisingsprojek in Melkhoutfontein.
Vorige artikel: Minister besoek behuisingsprojek in Melkies
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'