Gallery Update Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - Die Militêre Akademie is die fakulteit krygskunde van die Universiteit Stellenbosch en dis hier waar gekeurde jong staandemag offisiere van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag hulle graadstudies voltooi en ook leierskapvaardighede verfyn.
Studente van die akademie doen elke jaar 'n Trans Enduro en die toer begin in Gqeberha. Hulle besoek dan verskeie dorpe tot hulle 10 dae later die toer in hulle tuisdorp, Saldanha, voltooi.
Die doel daarvan is om geld vir die Militêre Akademie se Masiza-gemeenskapsuitreikprogram in te samel.
Die studente is dan ook in sosiale impakprojekte betrokke in die dorpe waar hulle aandoen. Dit sluit die skoonmaak van strate en woonbuurte, verf van skoolgeboue en besoeke aan ouetehuise in. Die Masiza-program fokus vanjaar op senior burgers en vroeë kind ontwikkeling.
FOTOGALERY: Militêre Akademie draf deur Hessequa
Volgens luitenant-kolonel Morné Booyens, hoof militêre instrukteur by die akademie word die totale Trans Enduro-oefening deur die studente beplan en uitgevoer. Dit ontwikkel hulle leierskapvaardighede en versterk hulle begrip van die praktiese probleme rakende gemeenskapsdiens. Terselfdertyd kry die gemeenskap blootstelling aan die hoë kaliber jong mans en vrouens wat in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag dien.
VIDEO: Militêre Akademie op drafstappie deur Hessequa
Spanne
Die groep bestaan uit nege spanne, wat insluit land, drawwers, logistiek, sein, media, fietsryers en seespanne. Die Masizaspan is vir die verf- en bouwerk en skoonmaak van woonbuurte verantwoordelik. Die fietsryspan doen 100km per dag en die drawwers doen 10km elke dag.
Die seespan is op die water met twee rubberbote en doen die hele toer seelangs. Die landspan samel geld in vir die Masiza-projek.
Die Masizaspan het in Riversdal Jurisch-park skoongemaak en die monument geverf.
In Melkhoutfontein het hulle Soeterus-versorgingsoord besoek en bale wol geskenk vir die breiprojek wat daar tot stand gebring is.
Volwassenes en kinders met 'n gebrek word hier geleer om te brei en die doel is sodat hulle iets aanleer wat hulle nie net besig hou nie, maar ook om selfvoorsienend te word. Vir die groentetuin wat daar bedryf word het die studente kompos geskenk.
Verder het hulle foto's van die oprit na die ingang van die gebou geneem en onderneem om dit te verbeter en volledig rystoelvriendelik te maak.
Die studente het Dinsdagaand, 30 November in Stilbaai van George arriveer en Woensdagoggend, 1 Desember 'n klein seremonie by die Stilbaai-hawe gehad, waartydens die onderburgermeester van Hessequa, Tinus van den Berg hulle welkom geheet en bedank het vir dit wat hulle in Hessequa gaan doen as deel van die Masiza-uitreikprojek.
Hy het ook 'n brief van welwillendheid van die burgemeester van George in ontvangs geneem en 'n soortgelyke brief aan die studente oorhandig om aan die volgende dorp se burgemeester te gee. Daarna het eers die rubberbote vertrek, gevolg deur die fietsryers en laastens die drawwers.
Die Masizaspan het Jurisch-park in Riversdal skoongemaak en die monument geverf.
Die Masiza-span met Marius van Tonder, bestuurder van Jagersbosch-gemeenskapsdiens en van die inwoners. Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'