ALBERTINIA NUUS - Die dag toe hy besef hy gaan by die KKNK optree, was Branville Saayman, 'n matriekleerder van Hoërskool Albertinia, stom van verbasing.
Dit was sy eerste bywoning en ook optrede by Oudtshoorn se groot kunstefees en hy kon dit aanvanklik nie glo dat hy deel van hierdie kunstefees, een van Suid-Afrika se grootstes, gaan wees nie.
Die KKNK is 'n familiefees wat besoekers sedert 1995 vanoor Suid-Afrika lok.
Branville was een van meer as 80 hoopvolle kunstenaars wat etlike weke voor die fees video-oudisies ingestuur het met die hoop om 'n deurbraak te maak. Sy profiel het dadelik aandag getrek en hy is gekies as een van die handjievol akteurs wat aan vanjaar se kunstefees kon deelneem.
Branville het sy eenmanstukke, Moet my nie judge nie en My taal gedurende die week van die KKNK opgevoer. Die een was 'n drama en die ander een humoristies.
Die Coca Cola-verhoog, waar hy opgetree het, was volgepak met mense wat verwag het om sangers te sien optree. Branville se vertoning was 'n verfrissende verandering, sê Elrin Lottino wat die aanbieder op verhoog was. "Hy het vinnig die gehoor se aandag gehad en die groot applous wat hy ná elke vertoning uitgelok het, spreek boekdele. Branville het beslis bygedra om die standaard van optredes hoog te hou en werklike kuns na die verhoog te bring."
Een van sy hoogtepunte, vertel Branville, was om die bekende sangeres, Rushney Ferfuson, heel voor in die gehoor te sien. Hy het ook heelwat bekendes in die vermaaklikheidsbedryf raakgeloop.
"Die KKNK was 'n groot leerskool vir my as 'n jong opkomende akteur en elke kunstenaar het my met ope arms ontvang en raad gegee."
Branville wil graag die volgende uit sy hart sê: "Dankie vir elke borg wat my gehelp het om hierdie droom te bewaarheid. Vir my as leerder is hierdie die grootste stap in my lewe en ek kan net dankie sê. Daar is te veel mense om op die naam te noem.
"Maar die grootste eer kom die Here toe wat my help en my ook dra."
Dennis Karelse van Hoërskool Albertinia loop oor van trots oor Branville wat reeds op só 'n jong ouderdom op die groot verhoog en voor 'n groot gehoor kon optree."
Vir dié jonk akteur wag daar groot dinge ná skool.
Branville Saayman, 'n matriekleerder van Hoërskool Albertinia, het onlangs by die KKNK in Oudtshoorn sy debuut op die verhoog gemaak. By hom is Elrin Lottino wat die aanbieder op verhoog was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’