Update
HEIDELBERG NUUS - Na afloop van 'n gedugte kompetisie het Denice Marais, plaaslike sangeres 15de uit 54 lande tydens die wêreld karaokekompetisie in Finland geëindig.
Marais is op 10 Desember 2016 as die Suid-Afrikaanse karaokekampioen gekroon.
Sy het kort daarna, in samewerking met rdl. Theresia van Rensburg van Eden-distriksmunisipaliteit (EDM) en ander rolspelers begin werk aan 'n plan om geld in te samel, wat haar reis- en verblyfkoste in Finland moontlik sou maak.
Tydens 'n distriksraadsvergadering op 22 Januarie het sy haar dank aan alle raadslede vir hulle volgehoue ondersteuning en betrokkenheid tot dusver, veral tydens haar deelname aan die wêreldkompetisie.
"Ook aan God vir die voorreg wat my gegun is om na Helsinki te kon reis, omdat ek nie uit 'n bevoorregte agtergrond kom nie."
Sedert haar terugkoms in die distrik het sy saam met haar bestuurder, Theresa le Roux-Rossouw, David September (HUB: Wêreld karaoke kampioenskappe, Suid-Afrika) en Van Rensburg, begin beplan aan 'n streekkompetisie vir minderbevoorregte musiek-kunstenaars.
Sy beoog om skole in die distrik te besoek om ander talentvolle jeug te identifiseer.
Sy wil nie net haar eie drome verwesenlik nie, maar dit ook vir ander moontlik maak om in haar voetspore te volg.
Van Rensburg het gesê dat Marais 'n voorbeeld vir ander jong persone is.
"Sy is die kans gegun om vooruit te gaan en het nie toegelaat dat struikelblokke haar weerhou om haar drome te vervul nie."
EDM uitvoerende burgemeester, Memory Booysen, het gesê: "Ons as Suid-Afrikaners is trots op jou en vir die sukses wat jy behaal het.
"Ons glo dat jou verhaal ander sal motiveer om hulle potensiaal te bereik."
Lees vorige artikels hier:
ARTIKEL: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'