SUID-KAAP NUUS - Met die heengaan op 16 Julie van Jonathan Clegg het Mandela-maand vieringe nou ook meer musiek, passie en skop bygekry.
Clegg was wêreldwyd vir sy makhanda musiekvertonings bekend met sy groepe, Juluka en later Savuka en veral vir sy aangrypende uitvoering van egte Zoeloe-danse op die verhoog.
Oorsese gehore het hulle aan die 'Wit Zoeloe' vergryp en na hul asems gesnak wanneer die groep die danse so skouspelagtig uitgevoer het.
Ook sy liedjies wat hy en sy lewenslange vriend, Sipho Mchunu, in Zoeloe gesing het, was vir oorsese gehore iets besonders. Sy uitvoering het hom en sy groep internasionale bekendheid verwerf. As die Franse vandag hoor jy is van Suid-Afrika, sal hulle onmiddellik sê: Nelson Mandela! Daarna sê hulle die naam Johnny Clegg, en dan kyk hulle jou so selfvoldaan aan om te sien of jy hulle kennis van ons land waardeer.
Clegg het 'n besonderse bydrae tot die musiekwêreld en die Suid-Afrikaanse troebel gemeenkapslewe van die 80's en 90's gemaak. Man alleen het die 'Wit Zoeloe' Suid-Afrikaners herinner dat ons 'n land deel; dat die verskillende kulture, veral ons tale, ons kan bind eerder as ons verdeel en dat ons derhalwe onlosmaaklik aan mekaar vasgeknoop is. Met sy musiek het hy die brug oorgesteek en 'n lig vir almal opgesteek om te volg.
Die ikoniese oomblik in die uitvoering van die vryheidslied Asimbonanga, toe Madiba onverwags agter hom op die verhoog uitgedans kom, was sekerlik vir die groep die kroning van hul werk deur die jare. Hy word bekroon met die Presidensiële Ikhamanga-toekenning, en deur die Franse met die hoogste eer vir 'n Suid-Afrikaner, die Knight of Arts and Letters-toekenning. Sy groepe het saam meer as vyfmiljoen musiekplate en twee dosyn videos oor die wêreld verkoop.
Jonathan Paul Clegg se naam sal beslis elke Julie deur musiekliefhebbers saam met Mandela-maand onthou word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'