ALBERTINIA NUUS - 'n Vyf-en-veertigjarige man is Donderdag, 27 Mei om 15:00 dood verklaar na die masjiene waaraan hy in die hoësorg-eenheid in George-hospitaal gekoppel was, afgeskakel is.
Dit volg na John September, wat vir sy neef, 'n boukontrakteur op Albertinia gewerk het, op Dinsdag, 25 Mei besig was om 'n hoë muur (gewel) te bou.
Die muur was volgens sy medewerkers, wat verkies om anoniem te bly, glo te hoog gebou en 'n gedeelte daarvan het omgetuimel.
Van die werkers wat ook op die stellasie was, het eenkant toe gespring om uit die stene se pad te bly, maar September het na die stellasie wat langsaan gestaan het, probeer spring en in die stellasie se poot beland.
Volgens die kontrakteur is die ongeluk 'n harde slag vir hom, nie slegs omdat September 'n goeie werker was nie, maar ook omdat hy familie was en dat hy hom op so 'n wyse moes verloor.
September en sy saamleefmaat, Johanna Jantjies was vir meer as 20 jaar saam en hy was die broodwinner. Sy het nie 'n vaste werk nie en weet nie wat die toekoms sonder hom inhou nie. Hulle het twee kinders saam en September het nog 'n kind wat in George bly.
Die begrafnis is Saterdag, 5 Junie om 08:00 by die huis in Bloekomlaan en 09:00 by die kerk in Mossgassaal.
Op die foto kan die boonste deel wat ingetuimel het, duidelik gesien word. Foto: Heinrich Fortuin
Die stoorruimte wat John September help bou en wat sy dood veroorsaak het.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'