Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Die onlangse Makadasmarkfees op Riversdal se dorpsplein het gemengde reaksie uitgelok. Suid-Kaap Forum het onder die enjin ingeklim om vas te stel of dié trein wel koers het.
Ons het Hessequa-munisipaliteit om kommentaar genader en wou weet of dié projek geslaagd was of misluk het.
“As eerste poging om die gebeurlikheidsmark te betree en ‘n volhoubare jaarlikse mark te stig, het die Makadasmark gemengde welslae bereik,” het Didi Budricks, munisipale kommunikasiebeampte gesê.
Ons het ook die volgende vrae aan die munisipaliteit gestel (kommentaar verkort):
Wat was die doelwit en is dit bereik?
“Die Makadasmark is ten doel om ‘n platform vir plaaslike entrepreneurs te skep om hul goedere te verkoop en ook om blootstelling te bied aan Riversdal en die Hessequa-streek as toerismebestemming. Die mark moet ‘n jaarlikse afsetpunt wees waar entrepreneurs hul goedere aan inwoners en besoekers kan verkoop. Met hierdie eerste aanbieding het 17 entrepreneurs hul goedere uitgestal. Die organiseerder het alle winste voortspruitend uit die mark aan nie-winsgewende organisasies op Riversdal geskenk.”
In watter mate was Hessequa-toerisme betrokke?
“Hessequa-toerisme bevorder die streek as toerismebestemming en bied dus jaarliks finansiële ondersteuning aan feeste en gebeure wat suksesvol aansoek doen volgens die toerismekriteria. Die Makadasmark het suksesvol aansoek gedoen en het ook nie-finansiële ondersteuning in die vorm van ondersteunende dienste ontvang. Die Makadasmark se datums is ook tot die toerisme webwerf www.explorersgardenroute.co.za en die Explorer’s Garden Route sosiale media gevoeg nadat dit deur die onderskeie munisipale administratiewe prosesse vir goedkeuring gegaan het.”
Watter kwessies moet aangespreek word om dié markfees as ? jaarlikse, volhoubare gemeenskapsprojek te vestig?
“Die mark as projek het die potensiaal om jaarliks ‘n hoogtepunt vir Riversdal en omgewing te word en ‘n goeie ekonomiese platform te skep waar inwoners en besoekers mekaar op ‘n sentrale ligging ontmoet. Hierdie eerste aanbieding het tydens uitdagende ekonomiese omstandighede plaasgevind. Ons het ‘n aantal lesse hieruit geleer: Markte van hierdie aard moet hoofsaaklik saam met die vakansieseisoen geskied en daar moet ‘n meer intensiewe fokus op die verskeidenheid van stalletjies wees. Dit is ook uit ‘n bemarkingsoogpunt belangrik om die mark op meer prominente plekke, soos winkelsentrums se kennisgewingborde te adverteer.”
Suid-Kaap Forum het ook met die organiseerder, Gys Hough gesels.
”Sosiale bydraes tot ‘n gemeenskap is onontbeerlik. Besighede kan nie suksesvol sónder die ondersteuning van die gemeenskap funksioneer nie. Ek wou namens my restaurant aan die gemeenskap teruggee deur ‘n platform te skep en probeer om ekonomiese verligting aan entrepreneurs te bied.”
Hough wys uit hy moes vanjaar met uitsonderlike uitdagings binne die raamwerk van nasionale en munisipale riglyne stoei. Weens Covid 19-regulasies was die ruimte beperk, maar hy kon tog daarin slaag om deur middel van die Makakasmark ‘n aantal nie-winsgewende organisasies ondersteun. Die inkomste wat met die verhuring van die stalletjies gegenereer is, is aan die gekose organisasies - Riversdal-kindersorg en Riversdal Uitvoerende Kunste - geskenk.
“Hulle doen uitsonderlike werk en lewer ‘n reuse-bydrae in die gemeenskap.”
Hy het ook 150 Makadasmaskers aan besoekers uitgedeel. Hy meen die uniekheid vir ‘n toerisme-aantreklikheid vir Riversdal word meer en meer broodnodig. “Dit bied nie net ‘n ekonomiese hupstoot nie, maar verleen ook aansien aan ‘n dorp. Ons wil graag die ou gebruik van straatmarkte op die dorp herroep. Vanjaar se poging was eintlik simbolies van die inperking wat Covid 19 meegebring het en reflekteer ‘n gemeenskap se kreet tydens onderdrukking: Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg. ‘n Dorp is so sterk soos sy gemeenskap. Ons doelwit is om die Makakasmarkfees aanstaande jaar aansienlik uit te brei; mark in die dag en fees in die aand!”
Kyk 'n video hieronder:
JoAnn de Waal
Gys Hough by 'n getekende afdruk van die digter Bernard Fielies se gedig, Makadas.
Vorige artikel: Makadas tog op spoor?
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'