RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Ma, hoe voel dit om dood te gaan, om vermoor te word?
Die vraag wat Marika op die laaste dag wat haar ma haar lewend gesien het, gevra het, sal altyd by Rosina Jansen bly spook. Daardie selfde dag het haar kind vermis geraak.
Die geregtelike nadoodse ondersoek na die moord op Marika Jansen, wat 14 jaar gelede op die plaas Bakenskop vermoor is, is Donderdag 18 Julie in die Riversdal-landdroshof voortgesit.
Een van die drie verklarings wat in die teenwoordigheid van die getuies is vir die hofrekord voorgelees, bevat verdoemende getuienis teen die verdagte, Jacobus September, ook bekend as Pepe. Sy ma, Katrina September, daarenteen, het ontken dat sy die verklaring afgelê het.
Die 12-jarige gr. 6-leerder aan Kruisrivier Primêr het op Saterdag 1 Oktober 2005 vermis geraak na haar pa, Piet Jansen, haar na hul werkershuis gestuur het om die stalsleutels te gaan haal.
Haar naakte liggaam is op Vrydag 7 Oktober 'n hele ent daarvandaan in die veld gevind. September het dieselfde dag in die Mosselbaai-landdroshof voorgekom, maar is weens 'n gebrek aan bewyse wat hom met die moord verbind, vrygelaat. Die saak is nooit opgelos nie.
Die eerste 25 verklarings wat as deel van die ondersoek vir die hofrekord voorgelees word, is op 23 Mei aangehoor. Op Donderdag 18 Julie het Timothy Damons sy verklaring voorgelees. Hy het die middag toe hulle besig was om beeste aan te jaag stal toe, gesien hoe September met Marika praat. Staatsaanklaer Charlton Pretorius het Emma de Klerk se verklaring voorgelees. In die verklaring vertel sy hoe sy, terwyl sy in Melkhoutfontein gewoon het, op 'n dag gehoor het hoe September vir 'n onbekende man vertel 'die boere is op sy saak'. Dit het blykbaar verwys na 'n verkragting op Stilbaai, waarvoor hy later lewenslank tronk toe gestuur is, maar ook die verkragting en moord van Marika.
September het glo vir die man vertel hy het Baby (Marika) by haar pa se huis bewusteloos geslaan en verkrag. Toe het hy haar op sy fiets gelaai en in die bosse gaan weggooi. Daar het hy haar blykbaar weer verkrag en onder meer met 'n doringdraad verwurg.
Toe hy later die middag hoor dat die familie na Marika soek, is hy terug na die plek 'om haar verder dood te maak' en in die bosse weg te steek.
Sy ma het in die hof ontken dat sy ooit in haar verklaring gesê het haar seun het die verkeerde klere vir ondersoekbeampte ao. Boer van Rensburg gegee. Van Rensburg het dit glo self gevat, beweer sy nou.
Suid-Kaap Forum het na die hofverrigtinge buite die hof met Marika se ma en haar niggies, Maryna Stephanus en Maritz Saayman, gesels. Stephanus het vertel hulle het gewoonlik saam met Marika die kalwers gaan melk gee. "Ek kan nie onthou hoekom ons nie daardie dag gegaan het nie." Later die middag toe hulle oorgestap het na haar oom se huis, het hy hulle ingelig dat Marika verdwyn het.
"Ek voel so ontsteld oor my kind, ek kan uitbars in trane," het Rosina gesê. Sy vertel sy het ten tyde van die moord op 'n plaas in Blombos gewoon terwyl Marika nader aan die skool by haar pa gebly het.
"Sy het die vakansie by my gekuier. Voor ek haar Vrydag weggebring het, het sy my gevra, 'Ma, hoe voel dit om dood te gaan, om vermoor te word?' Ek het vir haar gesê dit is swaar om vermoor te word. Die eienaar van die plaas het Vrydag 7 Oktober kom sê hulle het haar in 'n ystervarkgat gekry."
Die saak is tot 1 Augustus vir verdere aanhoor van getuienis uitgestel. September bly in aanhouding.
Kyk 'n video hieronder:
Rosina Jansen.
Lees 'n vorige artikel hier: Verdoemende getuienis in Marika saak
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'