RIVERSDAL NUUS - Adjudant-offisier Jolanda Prinsloo van die Riversdal-polisie vier elke jaar Loslitdag met passie.
Vanjaar is die tema geïnspireer deur Disney se nuwe veldtog, The Ultimate Disney Princess Celebration, wat die eienskappe, durf en deernis, vier.
Om Loslitdag ten bate van mense met gestremdhede te ondersteun, koop mense plakkers teen R20 elk en trek anders aan, en vanjaar is dit Disney-karakters se beurt.
AO Prinsloo is vandag 'n pienk feëtjie, die 'Funky Fairy'.
As jy vandag vir haar by die polisiestasie gaan soek, sal jy geen antwoord kry as jy vir AO Prinsloo vra nie, maar vra vir die Funky Fairy en jy kan diens uit die boonste rakke verwag. En as jy een van twee magiese wagwoordfrases uiter, kry jy boonop 'n geskenk - kruiesaad wat jy kan gaan plant. Elke keer as jy na die plantjies kyk en die opbrengs geniet, sal jy die Funky Fairy onthou.
Prinsloo hoop dat elke persoon wat haar uitrusting sien sommer vir die res van die dag en naweek bly glimlag.
Die tema van durf en deernis definieer sy so: "Durf dat jy die moed sal hê om snaaks aan te trek en ek gee die kruiesaadjies met deernis wat jy ook met deernis moet plant."
Haar groot wens vir Loslitdag is dat elke persoon 'n plakker koop en mense met gestremdhede ondersteun.
• Suid-Kaap Forum het die volgende inligting by 'n betroubare brom ontvang: Die Funky Fairy se wagwoorde is ‘Fairy Godmother’ of ‘Vreeslike Ondeunde Feetjie’.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'