Gallery
HEIDELBERG NUUS - Wally het dalk net drie bene, maar hy is nog (‘n) kát met baie lewens!
Sy een voorbeentjie moes geamputeer word weens ‘n windbukskoeël wat hom op 13 Augustus vanjaar getref het.
Dié roekelose, onmenslike daad deur ‘n onbesonne inwoner het amper sy lewe gekos.
Hy was oukei en het mooi herstel, maar toe, in Oktober, tydens kattemaaimaand, het hy ‘n rondloper mannetjie op sy erf aangedurf. Wally se sny is met vyf sentimeter in dié geveg oopgeruk en hy moes weer veearts toe gehaas word om die wond te versorg en die sny weer toe te werk.
FOTOGALERY: Driepotige Wally het nog sy 9 lewens
Wally is nou ‘n bekoorlike skootkat en baie verknog aan sy pa, Joske de Beer, ‘n spinale belyningsterapeut. Joske het sedert die aanvanklike skietvoorval al oor die R30 000 spandeer om sy katseuntjie te red en na herstel te kondisioneer.
Die koeëlwond, gepaardgaande liggaamskok en trauma het onderliggende komplikasies veroorsaak en Wally het by die dood omgedraai. Sy een voorbeentjie moes geamputeer word om sy lewe te red.
“Die outjie het in die begin gesukkel om sy beperkings te leer ken. Hy kan nie meer so rats op toonbanke opspring en matte krap nie, maar hy laat hom nie onderkry nie. Hy is aktief en hy eet gráág. Ek noem hom nou ‘differently-abled’. Hy is dalk nou ánders, maar kan nog erg stout wees !”
Joske is ontsettend dankbaar vir die Riversdal-dierekliniek se sorg en Suid-Kaap Forum se ondersteuning. “Dit is belangrik dat sulke voorvalle aangemeld word en in die media aandag kry. Sedertdien het ons nog nie weer die klank van ‘n windbuks in die omgewing gehoor nie.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’