Mnr. Goliath Davids (83), legendariese dramaturg, akteur, verhoogkunstenaar, televisie/filmster en opvoeder, het na 'n kort siekbed in die Worcester Medi-kliniek aan emfiseem gesterf.
Davids, wat alombekend was in die vermaaklikheidswêreld as oom Gollie, was 'n baanbreker op die gebied van televisie en die groot doek.
Davids, 'n boorling van Heidelberg, het sy debuut in 'Harry's Kid' gemaak en daarna in 'Jantjie kom Huis toe'. Hy het ook in ander films, asook televisie en verhoog produksies, verskeie rolle vertolk, waaronder, 'Onder Engele' waar hy saam met sy kleinseun, Christo Davids (Errol van 7de Laan) gespeel het.
Oom Gollie was ook instrumenteel in die loopbane van vele ander plaaslike sterre, waaronder, Theodore Jantjies (Xander van 7de Laan) en Maurice Paige (Calvin van Isidingo) asook die opkomende talent, William Michaels. Benewens sy besonderse talent in die vermaaklikheidswêreld, was hy op sy dag self 'n talentvolle rugbyspeler en het hy op senter, veral, uitgeblink.
Davids het ook in die onderwys diep spore getrap en as jongman het hy op Laaiplek aan die Weskus, gaan skoolhou, waar hy sy eggenote, Maria, 'n nooi Blaauw, oftewel "Sussie" ontmoet, waar hulle dan ook getrou het. Sy het hom verlede Junie ontval. Hy was in sy laaste jare prinsipaal by De Waalville Primêr, waar hy dan ook afgetree het. Sedert sy aftrede het Davids baie nou saam met die baie bekende plaaslike dramagroep, Kairos, gewerk. Hy het ook as regisseur van die Paasspel, 'Man van Sirene', groot indruk gemaak met sy besonderse talent.
Davids laat drie dogters, drie seuns, 19 kleinkinders asook 10 agterkleinkinders agter. Die begrafnisreëlings was teen saktyd nog nie bekend nie.

Goliath - 'oom Gollie' Davids saam met sy vrou, Maria, Annelene Hartnick en Ricardo Januarie, tydens 'n prysuitdeling in Kaapstad. Foto: Verskaf.