STILBAAI NUUS - Op 29 Junie 2021 het die Hessequa Munisipale Raad goedkeuring verleen vir die verhuring van ongeveer 7 200m² van erf 217 in Stilbaai-Oos.
Dit was vir die gebou waaruit Lappiesbaai Restaurant bedryf word en die gebied daar rondom.
Dit sou vir 'n periode van 50 jaar wees wat die opgradering en uitbreiding van die huidige restaurant sou insluit.
Die munisipaliteit het egter na evaluering van die finansiële en operasionele aspekte, sowel as publieke insette, besluit om eerder 'n area van sowat 240m² (slegs die voetspoorarea van die bestaande gebou) te verkoop by wyse van 'n openbare veiling vir die uitsluitlike doel om die gebou op te gradeer en 'n restaurant vanaf die gebied te bedryf.
Hierdie voorneme is gepubliseer in die vorm van 'n publieke deelname: voorneme om munisipale eiendom te vervreem in Suid-Kaap Forum van Vrydag 23 Junie 2023.
Die publiek kan nou skriftelike besware/kommentare rig aan die munisipale bestuurder voor of op Vrydag 14 Julie voor 12:00.
Besware/kommentare kan per hand afgelewer word by die munisipale kantore, of kan gepos word aan die munisipale bestuurder, Posbus 29, Riversdal, 6670 of kan per epos versend word aan albert@hessequa.gov.za.
Lappiesbaai met sy blouvlagstrand is een van die ikoniese strande aan die Suid-Kaapse kus en hierdie ontwikkeling is al vir 'n paar jaar ietwat omstrede.
Stilbaaiers waak jaloers oor hierdie pragtige dorpie en sy natuurskoon en dit is 'n pluimpie in Hessequa-munisipaliteit se hoed dat hulle deeglike oorweging geskenk het aan die voor- en nadele van hierdie ontwikkeling, sowel as die insette van die breë publiek.
Volgens Rachel Wall, voorsitter van Stilbaai-sakekamer, rus daar 'n verantwoordelikheid op die munisipaliteit om in alle omstandighede op te tree tot voordeel van die belastingbetalers. Indien hierdie voorstel slaag sal dit finansieel sin maak, terwyl die parkeerplekke en strandgebied onaangeraak sal bly.
Met Suid-Kaap Forum se besoek aan Lappiesbaai Restaurant was Dalene Griesel onbewus van die publieke deelname proses en gekant teen die vervreemding van die gebou, maar volgens inligting tot die koerant se beskikking geld die huidige huurooreenkoms al vir 'n geruime tyd op 'n maand tot maand basis.
Lappiesbaai Restaurant is die enigste seefrontrestaurant in Stilbaai en al vir jare 'n baken in Stilbaai.
Wat ook al die uitkoms van hierdie publieke deelname proses mag wees, is dit 'n uitgemaakte saak dat daar 'n restaurant by Lappiesbaai moet wees en 'n plek waar inwoners en vakansiegangers graag sal wil bymekaarkom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’