STILBAAI NUUS - Die slim mense sê om vakansie te hou moet jy draf en fietsry en Vrydagoggend 27 Desember was weereens 'n bewys daarvan.
Daar het 280 drawwers opgedaag vir die Lappiesbaai vyf- en tien kilometer wedlope, ten bate van Jagersbosch Gemeenskapdienssentrum.
Die vyf-kilometer roete was strandlangs van Lappiesbaai tot by Preekstoel en terug en die drawwers vir die tien-kilometer wedloop moes die roete tweekeer voltooi.
Die jonge Lienke Visser van Kemptonpark het die vyf-kilometer dameswedloop gemaklik gewen, terwyl Jean-Louis Boshoff van Melkbosstrand die manswenner was.
In die 10-kilometer wedloop het Leandri Claassen van Pretoria haar jaarlikse oorheersing van die vakansie wedlope beklemtoon met 'n baie goeie wen en Nelus Smith van George het die Tuinroete se naam hoog gehou in die manswedloop.
Die groot een, oftewel die NSRI 10-kilometer wedloop, vind op oujaarsdag plaas en daar word weereens 'n groot klomp drawwers verwag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’