RIVERSDAL NUUS - Hoërskool Langenhoven se netbalspelers, afrigters en beamptes het gedurende die wintervakansie uitstekende prestasies op provinsiale en nasionale vlak behaal en die skool se naam hoog gehou.
Lize Retief het die Wes-Kaap o. 15 Willows-span by die SA netbaltoernooi verteenwoordig, waar die span ’n verdienstelike vyfde plek in die land behaal het.
Erin Hardnick is vir die Wes-Kaap o. 16 Oaks-span gekies en het die provinsie tydens die nasionale kampioenskappe verteenwoordig.
Helena van Schalkwyk en Deney Jantjies is gedurende die vakansie na Eden-spanne opgeroep en het aan die interdistrikstoernooi, wat die laaste naweek van die skoolvakansie plaasgevind het, deelgeneem.
Hoërskool Langenhoven het ook drie spelers in die Wes-Kaap o. 17 Eden-span gehad.
Granwunesia Johnson, Carla Botha en Jo-Ann Jacobs was deel van die span wat ’n bronsmedalje met ’n derde plek verower het.
Die skool se afrigters het ewe veel rede tot trots gehad. Carlyne Hendricks, afrigter van die Wes-Kaap o. 17 Willows-span, het haar span na ’n sesde plek by die SA kampioenskappe gelei, terwyl Marné van Tonder se Wes-Kaap o. 14 Willows-span vyfde in Suid-Afrika geëindig het.
Petrusa Marais het ook ’n belangrike mylpaal bereik deur haar SASN B-skeidsregtergradering suksesvol te verwerf, ’n prestasie wat haar toewyding tot die ontwikkeling van netbal beklemtoon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’