RIVERSDAL NUUS - Hoërskool Langenhoven gaan die naweek van 8 en 9 Mei geskiedenis maak wanneer hy sy eerste amptelike sportwedstryde op sy splinternuwe Astro-hokkieveld aanbied.
Die geleentheid word as ’n belangrike mylpaal vir die skool beskou en lui ’n nuwe era vir wintersport in Riversdal in.
Rugby, netbal en hokkie vorm deel van die naweek se sportprogram, maar die grootste fokus sal op die hokkiewedstryde val, waar die skool se spanne vir die eerste keer op hul eie Astro-oppervlak in aksie sal wees.
Die Dasse kom teen Hoërskool Stellenbosch te staan in wat ’n mededingende wedstryd behoort te wees.
Volgens die skool bied die nuwe Astro-veld aan die spelers die geleentheid om hul vaardighede op ’n professionele oppervlak te ontwikkel en plaas dit die skool se hokkieprogram op ’n nuwe vlak.
Die publiek en die breër Riversdal-gemeenskap word uitgenooi om die naweek se wedstryde by te woon en die spelers te ondersteun.
Die organiseerders sien uit daarna om sportliefhebbers langs die bane te verwelkom vir ’n naweek van geesdriftigheid, samehorigheid en topklaswintersport in die Dal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’