RIVERSDAL NUUS - Zanel Meyer, ‘n matriekleerder van Hoërskool Langenhoven in Riversdal, het pas haar eerste olieverfskildery suksesvol voltooi.
Sy kry kunsklasse by die kunstenaar, Louise Klutys van Starnation Studio in Heidelberg. “Zanel het tydens die Covid-pandemie by my aangeklop. Destyds moes ons aanlyn werk.”
Deel van die jong skilders se opleiding is teken en ontwerp, met baie aandag aan die verskeie kunsdissiplines en -mediums; onder meer potloot, ink en houtskool.
“Dit is belangrik dat die tieners eksperimenteer om hul portefeuljes te ontwikkel en die kunsrigting te vind waarin hulle wil spesialiseer,” sê Louise.
Zanel is baie kreatief en tegniese tekeninge is een van haar gunstelingvakke. Sy oorweeg ‘n loopbaan in argitektuur. Dié belangstelling is duidelik in haar eerste olieverfkunswerk te bespeur.
“Ons kies temas wat by die leerders se belangstelling pas. Zanel het hierdie gebou as inspirasie gebruik om haar vaardigheid met kleurharmonie, perspektief en die tegniek van paletmeswerk te ontgin.”
Sy het verlede jaar 100% by die jaarlikse Riversdalse Amateurteater en Musiekvereniging (RATEM) met haar kuns behaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’