Video
RIVERSDAL NUUS - Hoërskool Langenhoven was dié naweek ’n miernes van sportbedrywighede, met dag twee van die Wes-Kaapse provinsiale netbaluitdunne wat in volle swang was, terwyl die skool se rugby- en netbalspanne terselfdertyd op hul tuisvelde teen Hoërskool Swellendam kragte gemeet het.
Langenhoven het Vrydag en vandag, 22 en 23 Mei, as gasheer opgetree vir die Wes-Kaapse provinsiale netbaluitdunne, waar jong spelers van regoor die provinsie hul talent op die baan ten toon gestel het in die hoop om vir provinsiale spanne gekies te word.
Die uitdunne het op die skool se netbalbane plaasgevind, met spelers in ouderdomsgroepe van o. 12 tot o. 18 wat deelgeneem het.
Verskeie distrikte, waaronder Eden, Weskus, Kaapse Wynlande, Overberg, Kaapstad en die Sentraal-Karoo, het hul beste spelers na Riversdal gestuur vir die keuringsproses.
Registrasie en openingsverrigtinge het Vrydagmiddag afgeskop, waarna wedstryde in verskeie rondes beslis is.
Die uitdunne het vandag voortgeduur, met die aankondiging van die provinsiale spanne aan die einde van die keuringsproses.
Die byeenkoms het nie net topnetbaltalent na Riversdal gelok nie, maar ook Hoërskool Langenhoven in die kollig geplaas as gasheer vir een van die Wes-Kaap se belangrike netbalgeleenthede.
Intussen het sportgees op die skoolterrein hoog geloop met Langenhoven se rugby- en netbalspanne wat voor hul tuisskare teen Hoërskool Swellendam meegeding het.
Video: Ben Snyman
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’