Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Mylpaal is bereik met die aanlê van die eerste astrohokkieveld in die Hessequa-distrik wat by Hoërskool Langenhoven in aanbou is.
Hierdie projek, met 'n waarde van ongeveer R7 miljoen, beloof om 'n blywende nalatenskap vir sportontwikkeling in die streek te wees.
Volgens skoolhoof, Henco Smith, is daar groot opgewondenheid oor die vordering van die aanleg, wat reeds 75% voltooi is.
"Hierdie projek verbeter nie net ons sportgeriewe nie, maar versterk ook gemeenskapsbande en bied nuwe geleenthede vir ons jeug," sê Smith.
Die baan, wat aan internasionale spesifikasies voldoen, sal beskikbaar wees vir Hoërskool Langenhoven se leerders, omliggende skole, sportklubs en die breër gemeenskap.
Die Astroturf-oppervlak is 'n moderne, sintetiese alternatief vir tradisionele grasvelde, wat 'n veilige speeloppervlak bied en jaarlikse instandhouding verminder.
Projek van samewerking en vennootskap
Hierdie vordering sou nie moontlik gewees het sonder die volgehoue ondersteuning van die plaaslike gemeenskap, ouers, oudleerders en borge nie.
Die skool spreek besondere waardering uit teenoor instansies soos JC Slagtery, JC Veebemarking, QCQ Transport, GFJ Cronje Bouers, Groenewald Konstruksie, Riversheim Boerdery, Hessequa Raadgewende Ingenieurs, Shovel, Mickwer Konstruksie en Mastersteel Structures.
Gemeenskap se hulp steeds nodig
Die finale fase van die projek insluitend die aanbring van die rubberskokmat, die speelmat, afwerkings en omliggende infrastruktuur benodig nog steeds finansiële hulp.
Daarom nooi die skool die publiek uit om deel te neem aan die Borg 'n Blokkie-inisiatief.
Teen R1 000 per blokkie kan individue of organisasies help bou aan hierdie sporterfenis. Alle donateurs se name sal op 'n spesiale erkenningsbord verskyn.
Vir meer inligting of donasies kontak die skoolhoof, Henco Smith by 076 152 5071 of 028 713 1065.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’