Update
HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike landdroshof het binne 'n kwessie van drie maande twee personeellede aan die dood afgestaan.
Dié keer is dit die landdros, Michael Delport (54), wat Sondagaand ongeveer 19:30 in die Chris Barnard Memorial-hospitaal na 'n kort siekbed van drie weke oorlede is.
Op 29 Mei vanjaar is Janine Rosen-Cleophas (40) dood toe sy en haar man, Jacques, en dogter, Xané (16), in 'n gru-ongeluk buite Khayalitsha betrokke was. Sy was tot haar skielike heengaan kantoorbestuurder vir nege jaar.
Volgens Delport se enigste dogter, Mika (20), het haar pa op 29 Julie 'n hewige hartaanval gehad en is hy in die Life Bay View-hospitaal opgeneem. Op 10 Augustus is hy na Kaapstad oorgeplaas, waar hy as gevolg van 'n verswakte hart die stryd verloor het. Delport het nagenoeg 24 jaar diens op Heidelberg agter sy naam. Hy was vir 11 jaar as staatsaanklaer by die Kaapstad-landdroshof werksaam voor hy as landdros na Heidelberg oorgeplaas is. Hy het sy B.Prok. en LLB-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf.
Volgens Liticia Freeman, senior landdros vir die Mosselbaai-streek, het sy skielike heengaan as 'n groot skok vir hulle as sektor gekom. "Hy sal lank gemis word. Hy was meer as net 'n kollega vir ons." Sy het gesê dat hulle as justisie nog behoorlik steier na die groot verlies van Rosen-Cleophas drie maande gelede.
"Dit gaan tyd neem om weer behoorlik in rat te kom." Freeman het haar medelye aan sy familie, veral aan Mika en haar broer, Michael (jr. 17) betuig.
Buiten sy kinders laat hy twee broers agter.
Die begrafnisdiens sal Maandag 28 Augustus om 13:00 vanuit Heidelberg-stadsaal plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'