HESSEQUA NUUS - Skilder jy, of verf en teken, skep met glas, klei, lym, hout, papier, gips of die alfabet in ink, met lint of op rekenaar? Jy word genooi om jou talent in ‘n vaardigheid te ontwikkel wat jou vernuf finansieel kan beloon.
Die Hessequa-streek het 'n wonderlike reputasie ontwikkel as 'n kuns- en kunsvlytbestemming met die vestiging van verskeie kunsverwante sake-ondernemings, 'n kunsroete en kleurryke muurskilderye in die meeste van die dorpe.
Kuns vry met denke, prikkel kreatiwiteit, gee selfbeeld ‘n hupstoot en bevorder sosiale kohesie. Oftewel: sommer net sielsdiepe, spontane lekkerkry!
Of, effens stywer, maar steeds stimulerend, verlei Riaan Malan, die senior toerisme- en ontwikkelingsbeampte hiermee: “Ons toerismebestemmingstrategie beklemtoon die belangrikheid van kuns uit 'n toerisme-perspektief en beveel projekte en intervensies aan om kuns verder te ontwikkel en te bevorder. Vanuit 'n besigheidsontwikkelingsperspektief word kunstenaars aangemoedig om hul talent in ‘n ekononiese uitkoms te ontgin.”
Hy beskyf kuns as 'n vorm van entrepreneurskap wat nie in isolasie moet funksioneer nie. “ Daarom moet kunstenaars, waar moontlik, deelneem aan bestaande entrepreneuriese ontwikkelingsprogramme en uitreike wat deur die verskillende belanghebbendes binne Hessequa ontgin word.”
Sy uitnodiging is: “Toerisme nooi plaaslike kunstenaars - doekskilders, sketsers, illustreerders, beeldhouers, fotograwe en kreatiewe skrywers - wat belangstel om aan die ontwikkelingsprogramme vir sakegeleenthede deel te neem - om te registreer.”
Die sluitdatum is Maandag, 27 Mei. Rig navrae aan riaan@hessequa.gov.za of by 028 713 7953.
Kunstenaars wat belangstelling toon, sal geskakel word deur die Small Enterprise Development Agency (SEDA). SEDA, in samewerking met Hessequa-munisipaliteit, sal dan ‘n behoeftebepaling doen en die entrepreneur skakel met die relevante ontwikkelingsinisiatiewe. Dit sluit mentorskap, sake-opleiding en bemarking in.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’