JONGENSFONTEIN NUUS - As jy Saterdag 23 Maart van die see se kant af na dié kusdorpie se strandfront gekyk het, sou jy nie verkwalik kon word as jy gedink het miere het oorgeneem nie.
Uitstallers en talle besoekers het die heerlike sonskynweer ten volle benut vir die gereelde Jongensfontein Kunsmark.
Tussen die 52 uitstallers was 'n groot verskeidenheid kuns- en handvlytitems, asook watertand lekker kos by stalletjies.
Die mark word deur die Jongensfontein Inwonersvereniging (JIV) gereël en die tradisie bestaan reeds langer as 20 jaar. Celeste Nel is in beheer van die uitstallers en sy doen haar bes om te sorg dat soveel as moontlik plaaslike vaardigheid en talent ten toon gestel word. Sy reken die mark is al so bekend dat uitstalruimtes byna hulself verkoop.
Volgens die voorsitter van die JIV, Naas Palmer, word alle geld wat geïn word gebruik vir projekte om die dorp te verfraai en om te help met instandhouding. Hulle bedank elke uitstaller wat help om die mark so 'n groot sukses te maak.
As jy verlede naweek se mark misgeloop het, sal jy op 20 April weer 'n kans kry om dit te beleef wanneer dieselfde uitstallers terug sal wees met hulle kleurvolle ware. Daar is nog enkele uitstalruimtes oop en belangstellendes kan Nel by 083 388 0337 skakel.
Besoekers wat Jongensfontein binnery kon nie die bedrywighede by die strand miskyk nie.
'Ons bring jou die nuutste Jongensfontein, Hessequa nuus'