Gallery
RIVERSDAL NUUS - "Daar's mense wat met olifante kan praat en weet wat amper elke grom en roggel en trompetter beteken," het Leon van Nierop op 7 Mei vanjaar in Rondrits kwytgeraak.
Dít bring mens by die gedagte hoe élke tuinliefhebber sy éie pad oopkloof om sy grond- en plantverwerking ten beste te ken en ten volle te benut - hetsy vir die oog of die maag.
Dit het 'n klompie tuingeesdriftiges van die Green Fingers-tuinboubklub (GFT) in Riversdal op Woensdag 10 Mei met hul besoek aan Dina en Emile van Druten op die Novo/Seekoegatpad, opnuut weer beleef. Want om ná sewe jaar met só 'n pragtige plaastuin te spog, kom nie vanself nie.
Nié net was die watertoevoer en -gebruike 'n kopkrappery nie, maar ook om by die finale beplanning en goedkeuring tot verandering of verbetering van die historiese geboue op hul bykans drie hektaar uit te kom.
'n Ou meul uit die laat 1800's is, byvoorbeeld, in 'n lieflike kothuis omskep. Die hoofhuis by Oude Eik-gastehuis, eens glo 'n bergplek vir diere, is vandag 'n veelsydige en plesierige woning met sy dik mure.
En daartussen is almal hartlik met tee, koffie en 'n eetdingetjie bederf.
Die Green Fingers-tuinboubklub het bietjie gaan wynproe by Baleia Wyne waar die wynmaker, Gunter Schultz (tweede van regs), hulle oor die kelder se topwyne vertel het.
Die volgende stop het 'n reënboog van kleure opgetower. Na elke oogknip kon mens iets anders waarneem. 'n Kunstenaarstemperament vol verrassings - binne en buite. Die tuiste en kunsgalery van Marilise Lombard, The Shack, weet net hóé om jou hart aan haar mengelmoes-tapisserie vas te weef. En agterna bly jy nog soos 'n spons om dit wat jy alles kon beleef steeds te absorbeer.
Soos die geleentheid wat sommige gehad het om 'n kwas met verf in sirkels of strepe op 'n reuse voorafgetekende blombord te trek. Dié eindproduk is bestem om 'n latere toevoeging tot 'n plaaslike ouetehuis te word. Wat 'n lieflike gebaar.
Daar is met wynproe by die Jouberts van Riversdal se gewilde Baleia Wyne teenaan die N2 afgesluit. 'n Totaal ander kunsrigting, en wie sê nou "nee" vir 'n wyntjie.
Saam met Tanya van Bosch, die wynskinker, en Gunter Schultz, die wynmaker, het hulle die klomp besoekers behoorlik ingekatrol met hul inspirerende benadering "hoe om wyn te proe" terwyl daar aan hul geurige southappies gepeusel kon word.
FOTOGALERY: Green Fingers-tuinbouklub dorpsuitstappie
Vier soorte is uitgetoets: die Sauvignon Blanc 2022, Chardonnay 2020, Deborah Rose 2022 en Vinho Rochas 2021. Hierna het Gunter 'n paar praktiese idees by hul naby-wingerd gaan demonstreer voordat almal vervuld weer huiswaarts kon keer.
En soos dr. Lawrence dit weer stel: "Party dinge kan jy glad nie op YouTube leer nie," …
Laat jou dink né!
Die drie vroue van die Green Fingers-tuinboubklub in Riversdal het die uitstapppie terdeë geniet.
Karin du Plessis besig om die voorafgetekende blombord by die kunsgalery van Marilise Lombard te verf.
'n Mooi fokuspunt in die kunstenaar Marilise Lombard se tuin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’