Gallery
HEIDELBERG NUUS - Heidelberg het Donderdagaand, 16 Desember hul jaarlikse ‘Krismis op Heidelberg - Carols by Candlelight’-vieringe in die Duivenhoks-gemeenskapsaal aangebied.
Dié vieringe word gewoonlik op die feesterrein langs die N2 gehou, maar is dié keer as gevolg van ongure weer na die saal verskuif.
Dit vorm ook deel van die twee dae feesvieringe wat die volgende aand met die Kersfeeskore-konsert afgesluit was.
Annelene Hartnick, voormalige wyksraadslid en dramaturg was die koördineerder. Vanjaar het Theodore Jantjies, boorling van dié dorp wat bekendheid verwerf het as akteur in die sepie 7de Laan, ook sy verskynning as programaanbieder gemaak.
Wykraadslede Abraham Daniels en Sonja le Roux het ook die verrigting bygewoon.
Volgens Hartnick word die fees in samewerking met Hessequa-munisipaliteit se Explorers Garden Route toerisme-afdeling, asook die departement van kultuursake en sport as ’n vakansieprogram aangebied.
“Die plaaslike kinders word opgelei om deel van die aand se verrigtinge uit te maak,” aldus Hartnick.
Daniels het die aanwesiges met ’n bemoedigende versoeningdagboodskap gemotiveer. Plaaslike sangers Elmarie Jegels en Andrew Rossouw het bekende Kersliedere gesing en geestelike dansies is deur die JF Neumann Memorial Congregational Kerk-dansgroep, asook die Heidelberg Hip Hop-dansgroep gelewer.
Theodore Jantjies luister na sy opvoeder en mentor, Annelene Hartnick terwyl sy hom aan die gehoor voorstel.
Volgens Hartnick is die aand se inkomste aan Susanna Cillie se ‘Suzies Sopkombuis’ geskenk. Geskenkpakkies is aan al die deelnemers oorhandig.
“Ek wil al die rolspelers, skenkers en almal wat opgedaag het, hartlik bedank vir hul ondersteuning aan die projek. ’n Spesiale dank aan Le Roux vir die skenking van die speelgoed vir die kinders,” het Hartnick gesê.
Die JF Neumann Memorial Congregational Kerk se dansgroep voer hul geestelike dansies uit.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'