HEIDELBERG NUUS - Heidelberg United-krieketklub is opgewonde oor die vordering met die twee nuwe krieketbaanblaaie by die dorp se sportgronde.
Volgens voorsitter Garth Esau is die klub tevrede met die gehalte van die werk wat die kontrakteurs lewer.
Esau, sekretaris Vennito van Niekerk en hulpkassier Eastriyond Esau het die terrein op 7 Julie besoek om die finale afrondingswerk te inspekteer.
Hoewel die projek goed vorder, is daar volgens Esau nog enkele uitdagings wat tydens ’n vergadering met die munisipaliteit bespreek sal word.
Een van die grootste bekommernisse is die lae draadheining langs die pad, wat dit vir vandale maklik maak om toegang tot die veld te kry en die baanblaaie en nette te beskadig.
Die opgradering van die sportkompleks, ter waarde van sowat R9,23 miljoen, het twee jaar gelede begin, terwyl die aanleg van die baanblaaie in September verlede jaar afgeskop het.
Klublede het ook hul deel gedoen deur die baanblaaie gedurende die eerste paar maande twee keer per dag nat te lei.
Esau sien daarna uit om die nuwe krieketseisoen op die splinternuwe baanblaaie af te skop.
Die klub en munisipale amptenare sou gister, 15 Julie, vergader om die oorblywende uitdagings te bespreek.
Teen die tyd van ter perse gaan kon Suid-Kaap Forum nog nie terugvoer in verband met die uitslag van die vergadering verkry nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’