Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - André Koen is meer bekend vir die fietswedrenne wat hy al voltooi het, maar daar is 'n versteekte talent wat nou eers behoorlik begin kop uitsteek.
Hy kan gereeld op sy handaangedrewe driewielfiets gesien word. Hy maak gebruik van dié fiets omdat hy 'n kwadrupleeg is. Hy is 'n bekende inwoner van dié dorp en Suid-Kaap Forum het onlangs oor hom berig nadat hy die Cape Town Cycle Tour voltooi het.
André het reeds met skilderlesse begin en ses skilderye voltooi.
Hy het gesê: "Ek het op skool baie mooi geteken, maar die inspirasie was net nie daar nie. Na my ongeluk het dit baie motivering gevat om weer te begin. Met iets soos kuns is jou hande en vingers 'n noodsaaklikheid. Ek moet baie hard konsentreer en maniere uitwerk om die kwas te kan beheer." Na sy ongeluk kan hy sy hande minimaal gebruik en kan hy glad nie 'n kwas met sy vingers vashou nie. Hy moet die kwas in sy handskoen druk om dit sodoende te kan 'beheer' en daarmee te skilder.
Sy vriendin, Rita Olivier, het hom baie raad gegee en gehelp om sy kunssinnigheid aan te wakker. Haar motivering en skilderlesse het hom geïnspireer om weer in kuns belang te stel. Sy ouers is verheug omdat hy weer sy talent herontdek het. Baie mense kan nie glo dat hy so vinnig en so goed gevorder het nie.
André Koen het onlangs met dié skildery van die donkiekar begin.
Die bekende skilder Voges Meyer, gee ook nou en dan vir hom klas. André maak homself ook touwys deur uit kunsboeke te leer.
"Ek geniet dit baie om te sien hoe ek regkom en met 'n skildery vorder. Dit is baie moeilik en aan die begin het ek gedink ek sal dit nie regkry nie, maar dit is iets wat jy kan oorkom. Dit is 'n ander wêreld. Wanneer ek fietsry sien ek baie dinge wat ek graag op doek wil vaslê."
Gedurende die winter kan hy baie maal nie gaan oefen nie en ontsnap hy dan deur by 'n vuurtjie te sit en skilder.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel: André wys hoe hy die kwas baasraak
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'