VERMAAKLIKHEID NUUS - Inwoners van die dorpie in Hessequa werk hard daaraan om 'n nuwe kleuterskool in die plek van een wat onlangs gesluit het, te open.
"Op die oomblik is 17 kleuters tussen een en vyf jaar oud ingeskryf," sê Lezane Bam, 'n gekwalifiseerde onderwyser wat hier gaan skoolhou. "Ons hoop nog 'n klompie uit die gemeenskap sal aansluit."
Die kleuterskool word ingerig in 'n laerskool wat in onbruik verval het en wat op die gemeenskapstrust se eiendom geleë is.
Volgens Bam het die nuwe skooltjie tafeltjies en stoeltjies vir die kleuters, maar dis omtrent al. "Ons het matrassies, speelgoed en speeltoerusting, asook opvoedkundige hulpmiddels soos boeke, legkaarte en skryfbehoeftes nodig."
Daar is ook 'n groot behoefte aan vrywilligers wat bereid is om te help om die klaskamer te restoureer. "Daar is heelwat herstelwerk aan die deure en hekke en verfwerk is ook nodig."
Volgens Bam het verskeie mense onderneem om maandeliks geld by te dra om die skool aan die gang te kry. Dit sal gratis aan die gemeenskap beskikbaar gestel word.
"Ek glo ons gemeen-skap het hierdie skooltjie nodig. Dit is tot groot voordeel om 'n soliede basis vir onderrig vir hierdie kosbare kinders te skep. Ons kry wonderlike terugvoer van die ouers wat sê hulle kan sien watter vordering hul kinders reeds in die vorige skooltjie gemaak het.
"Ek was nog altyd passievol daaroor om met die kleintjies te werk," sê sy. "Ek het hulle in die gemeenskap gesien en besef hier is 'n werklike behoefte aan 'n kleuterskool. Dit was my visie om een te skep." Met die doel voor oë het sy 'n kursus in vroeë kinderontwikkeling in 2015 by die Suid-Kaap Kollege voltooi en doen nou 'n Educare-kursus deur Oxbridge Academy.
Lees 'n vorige artikel hier: Vermaaklikheid kry nuwe kleuterskool
'Ons bring jou die nuutste Vermaaklikheid, Hessequa nuus'