RIVERSDAL NUUS - Kindersorg Suid-Afrika in Riversdal doen ’n beroep op inwoners om betrokke te raak by die beskerming van kwesbare kinders deur deel te word van die Eye on the Child-vrywilligerprojek, ook bekend as Isolabantwana.
Die projek is reeds in 1997 deur Kindersorg Suid-Afrika gestig nadat daar ’n behoefte geïdentifiseer is om gemeenskappe meer aktief by die voorkoming van kindermishandeling en -verwaarlosing te betrek.
Die inisiatief help ook om maatskaplike werkers se werklading te verlig en te verseker dat kinders se veiligheid ook buite gewone kantoorure aandag geniet.
Volgens Kindersorg Riversdal speel vrywilligers ’n belangrike rol in die gemeenskap deur beskikbaar te wees wanneer noodgevalle ná ure of oor naweke aangemeld word.
Die organisasie hoop om meer inwoners van Riversdal by die projek te betrek om ’n sterker veiligheidsnetwerk vir kinders te skep.
Persone wat belangstel om deel te neem, moet ouer as 25 jaar wees, in Riversdal woonagtig wees en ’n geldige identiteitsdokument kan voorlê.
Vrywilligers moet bereid wees om ná ure, insluitend oor naweke, beskikbaar te wees, opleiding en vergaderings by te woon en opdragte uit te voer wat deur maatskaplike werkers verwys word.
’n Liefde vir kinders is ’n noodsaaklike vereiste.
Die nodige vorms sal deur die organisasie hanteer word.
Belangstellendes kan Kindersorg Riversdal kontak by 083 361 5366 of ’n e-pos stuur na [email protected].
Die kantoor is geleë te Beverly Hills-singel 1, Aloeridge, Riversdal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’