STILBAAI NUUS - Die plaaslike ouetehuis, Huis Stilbaai, het weer vanjaar voordeel getrek uit geld wat geïn is van besoekers aan die bekende Kersfeesliggiehuis in Deininglaan 15.
Honderde vakansiegangers en plaaslike inwoners het die huis tussen 18 en 31 Desember besoek. Dit is reeds die 15de jaar dat Tommie en Linda Rademeyer hul huis met Kersliggies versier ten bate van die tehuis.
Kinders kon elke aand op Kersvarder se skoot sit, wat dan na hul wense luister. Hulle kon ook 'n briefie vir Kersvader in 'n rooi posbus gooi en volgens 'Kersmoeder' Linda, was daar 'n lag en 'n traan in van die briefies wat hulle elkeen sorgvuldig deurlees. Besoekers kon 'n donasie maak in 'n bussie wat deur 'n lewensgrootte Kersvader vasgehou word.
Volgens Linda, wat elke aand haar Kersmoeder-gewaad gedra het, het die 2017-seisoen die grootste hoeveelheid donasies nóg opgelewer. Dit neem die twee afgetredenes bykans 'n hele week om al die liggies op te sit nadat hulle seker gemaak het al die gloeillampies werk en dat alles in 'n werkende toestand is. Tommie, wat in April 78 word, klim self op die dak. "Wanneer hy daar klaar is, moet ons eers twee ure rus om die senuwees te kalmeer," skerts Linda.
Hul huis is gedurende Desember ook vir die News24-kompetisie ingeskryf en het die eindronde in die Facebook-kompetisie gehaal waar lesers vir hul gunstelinghuis kon stem.
Heelwat huise in Stilbaai en Jongensfontein word vir die feestyd opgetooi en wanneer dit liggietyd is, loop die woord vinnig van waar gekyk kan word. Nóg 'n gewilde huis is in Versveldstraat, terwyl baie huise met stringe liggies of selfs met Kersvaders wat deur die skoorstene klim, versier word.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'