SLANGRIVIER NUUS - Die Suid-Afrikaanse Verenigde Kersfeeskore Raad (SAVKR) het Sondag 15 Maart vir die eerste keer in die dorp se geskiedenis ’n B-Raad kompetisie op Slangrivier aangebied - ’n mylpaal vir dié gemeenskap en die breër Hessequastreek.
Die dag is verder gekenmerk deur ’n besondere prestasie van Young Royal Shepherds Kersfeeskoor (YRS) van Heidelberg, wat geskiedenis gemaak het deur vir die derde keer in een jaar die gesogte solokompetisie te wen.
Die koor het vroeër vanjaar reeds eerste plekke behaal by die Cape Country Kersfeeskore Unie se kompetisies in Worcester en Swellendam met onderskeidelik “Holy Art Thou” en “The Heavens are Telling”.
Sondag het hulle weer die beoordelaars beïndruk en goud ingepalm met “The Heavens are Telling”.
Die jong dirigent, Nathan Ruiters, se passievolle leiding het grootliks tot die koor se sukses bygedra.
Altesaam 14 kore uit ses unies oor die Wes-Kaap het aan die kompetisie deelgeneem. Die Hessequastreek is goed verteenwoordig deur YRS, Loving Shepherds van Slangrivier en Royal Crusaders van Riversdal.
Die verrigtinge is geopen deur pastoor Tommy Alberts met skriflesing uit Psalm 91 en gebed, waarna SAVKR-president Michael Heuvel die deelnemers en ondersteuners verwelkom het.
Die beoordeling is behartig deur lede van die lugmag, vloot en weermag, asook twee privaat musiekkenners.
Onder die gaste was Hessequa-onderburgemeester Gerald Boezak, asook raadslede Jenniefer Hartnick en Lilian Februarie. Boezak het ook die oorhandiging van trofeë behartig.
Worcester Crusaders is as algehele wenners aangewys, met YRS in die tweede plek en Royal Crusaders derde. In die solokompetisie het Worcester Crusaders tweede geëindig, gevolg deur St. Moses van Zoar in die derde plek.
Volgens beoordelaars was die kompetisie straf, maar in ’n goeie gees aangebied. Die SAVKR se A-Raad kompetisie vind Sondag 22 Maart by Erica Park in Belhar plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’