STILBAAI NUUS - Die toegewyde vrywilligers van die Stilbaai Kapgroep speel 'n belangrike rol in die bewaring van die dorp se unieke natuurlike erfenis deur indringerplante uit te roei en sodoende ruimte te skep vir inheemse fynbos om te floreer.
Gewapen met kettingsae en ander toerusting pak die groep gereeld indringerplante aan, met die fokus tans op die rooikransboom (Acacia cyclops), een van die grootste bedreigings vir die plaaslike plantegroei.
Die rooikrans, wat oorspronklik uit Australië afkomstig is, is dekades gelede na Suid-Afrika ingevoer om sandduine te stabiliseer. Die plant het egter vinnig versprei danksy die groot hoeveelheid saad wat dit produseer. Die sade se sappige rooi saadstingels lok voëls en ander diere, wat die verspreiding daarvan verder bevorder.
Volgens omgewingskenners verdring rooikrans inheemse plante deur dit te oorskadu en neem dit waardevolle ruimte en hulpbronne in beslag. Die plant floreer in voedingstofarme grond en ná veldbrande, wat die negatiewe impak op plaaslike ekosisteme verder vergroot.
Die spesie se vinnige groei en aanpasbaarheid maak dit 'n ernstige bedreiging vir biodiverstiteit en uiters moeilik om uit te roei sodra dit gevestig is.
Die Stilbaai Kapgroep nooi inwoners om hand by te sit tydens hul volgende uitroeiingsaksie op Saterdag 13 Junie. Vrywilligers sal om 08:00 aan die oostekant van die rivieroewer, naby die openbare toilette, bymekaarkom om rooikrans te verwyder.
Gemeenskapslede word aangemoedig om twee ure van hul tyd af te staan om die groep te help met hierdie belangrike bewaringsprojek en sodoende 'n daadwerklike bydrae te lewer tot die beskerming van Stilbaai se unieke fynbos en natuurlike omgewing.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’