Update
HEIDELBERG NUUS - Die besluit van Kairos Senior Sekondêr om by die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) aansoek te doen om 'n geen fooi-status, het vir die eerste keer in die bestaan van die skool se byna drie dekades 'n byna 100% bywoning van ouers tot gevolg gehad.
Volgens die waarnemende hoof, Trevor February (Mister Thysie), het hulle al vir die afgelope vier jaar aansoek gedoen om 'n geen fooi-status te bekom.
Tydens 'n vergadering verlede Donderdag, waar nagenoeg 80% van die ouers teenwoordig was, is daar eenparig gestem dat die skoolbeheerliggaam hul aansoek moet indien om dié status te bekom.
Ten spyte van vorige onsuksesvolle pogings om geen fooie by Kairos in te stel, het February aan die ouers verduidelik dat hulle wel dié keer suksesvol sal wees aangesien die Wes-Kaapse minister van onderwys nou self kan besluit om die status toe te ken.
Hy het ook genoem dat daar twee opsies op die tafel is waaroor hulle moes besluit.
Ná sy voorlegging oor wat die twee opsies behels, is eenparig gestem ten gunste van die opsie vir geen skoolfooie nie.
Volgens February is daar ook uitstaande skuld wat die skool nog aan verskeie instansies moet betaal en het hy 'n dringende beroep op die ouers gedoen om 'n vrywillige skoolfooi van R300 per ouerpaar te doen om die uitstaande skuld te delg aangesien die WKOD dit nie sal betaal nie.
Hy het ook aan hulle die goeie nuus meegedeel dat die groot uitdaging van buitensporige kragrekeninge iets van die verlede sal wees aangesien hulle die Green X-projek aanvaar het en die departement R512 000 vir dit bewillig het.
February, wat sedert die skool se opening by die skool betrokke is, sal met ingang van die nuwe kwartaal amptelik die hoof wees. Helene Mostert, wat ook lank by die skool betrokke is, sal terselfdertyd as onderhoof diens hervat. Albei se aanstellings in geldig vanaf 1 April.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’